Die tuisspan het weggespeel teen Harlequins Forces op Oudtshoorn. Beide spanne is hierdie seisoen sterk aanspraakmakers op die Premierliga-kroon. Mosselbaai, wat tans kookwater krieket speel, het die loot gewen en sy kaptein, Riekie Lessing, het besluit om eerste te kolf.
Die blad het besonder moeilik gespeel, veral met die bewolkte toestande wat aan die opposisie se naatboulers baie beweging van die blad gegee het. Mosselbaai se kolwers moes reeds vroeg bontstaan.
Die openingspaar van Mosselbaai, die broers Shawn en Neil Ferreira, het egter bankvas die aanval trotseer en verseker dat Mosselbaai 45 van hul 50 toegelate beurte uitgekolf het. Shawn, met 33 lopies, het 136 minute van puik boulwerk op die ongemaklike blad getrotseer en die fondament vir 'n oorwinning gestel. Hy en sy jonger broer het 'n openingsvennootskap van 43 opgestapel voor Neil op 20 uitgevang is.
Die res van Mosselbaai se kolwers het elkeen bygedra tot 'n skaflike totaal van 139 almal uit. Jaco Fourie met 18 het ook goed bygedra. Vir Harlequins het Sidwell Williams 5/35 met die bal geneem.
Na ete het die blad nog moeiliker begin speel en die Mosselbaai sneltrein, Richard Maree, het die Harlequins kolwers behoorlik laat les opsê. Die jong 19-jarige is waarlik blitsig en 'n groot toekoms wag op hom. Hy het goed van die openingskolwers ontslae geraak vir slegs 23 lopies.
Kort na 14:00 het 'n reënbui gevolg en was Harlequins reeds in die moeilikheid op 23/3. Die reën het sowat 15:00 opgeklaar, maar was dit neusie verby vir Harlequins toe Riekie Lessing en die talentvolle linksdraaier, Shane Smith, die bal opgeneem het. Lessing met 3/7, en Smith met 3/2, het Harlequins almal terug in die kleedkamer vir slegs 58 na 16 beurte gehad.
Was dit nie vir die 26 lopies in die 'ekstras' kolom nie, sou Harlequins vir slegs 32 uitgeboul gewees het.
Mosselbaai het bewys dat indien die 50 beurte ten volle gebruik word, daar altyd 'n kans op oorwinning sal wees en die span is vol gees en speel sterk, geestelike krieket hierdie seisoen. Die kaptein, Riekie Lessing, se opbouende en gemotiveerde karakter maak ook 'n groot verskil in die span en die spelers speel graag vir hom. As Mosselbaai op die trant voortbou mag daar dalk 'n beker of twee na die Punt kom hierdie seisoen.
Ander wedstryde
In die enigste ander wedstryd het Pacaltsdorp by Union Stars op Bridgton, ook op Oudtshoorn, gaan kuier. Pacaltsdorp het egter vasgeval en kon slegs 80, almal uit, behaal. Union Stars, wat ook hierdie seisoen na 'n gedugte teenstaander lyk, het die wentelling van 82 met slegs 3 paaltjies plat verkry.
Mosselbaai rus nou tot 11 Oktober en hervat sy Premierligawedstryde weg teen Thembalethu en sy laaste T20 uitspeel wedstryd teen George op Sondag, 12 Oktober op die Van Riebeeckstadion, Mosselbaai.
Die naweek en aanstaande week ondersteun alle belanghebbendes vir Hoërskool Punt tydens die Punt Krieketfees, asook die plaaslike streekspanne by die o/13 Krieketfees, wat 10 - 12 Oktober op Van Riebeeck Stadion plaasvind.

Mosselbaai Krieketklub se T20-krieketspan - agter: Siya Simetu; Neil Ferreira, Shane Smith, Jaco Fourie, Richard Maree en Sammy Joe Avontuur. Voor: Errin Ewerts, Shawn Ferreira, Heinz Kruger (afrigter), Riekie Lessing (kaptein), Abrie Cilliers en Stefan Terblanche. Foto: Mark Golden
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'