Mosselbaai het die loot gewen en besluit om eerste veldwerk te doen om voordeel uit die vog in die blad, wat die boulers bevoordeel, te put.
Dit was maar die derde wedstryd wat Mosselbaai hierdie seisoen kon speel en die spelers het wedstrydoefen-
ing broodnodig gehad. George se openingskolwers het sterk vasgeskop, alhoewel daar nie baie lopies aangeteken is nie. Na twee verbroude vangkanse vroeg deur die besoekers, het Riekie Lessing toegeslaan met twee welverdiende paaltjies in agt beurte vir slegs 19 lopies.
'n Paar beurte voor die waterbreuk is die belowende jong linkerarm draaibalbouler, Shane Smith, reeds 'n sleutelspeler vir die SWD akademiespan, 'n boulkans gegun en het hy George se wind uit hul seile geneem. Hy het in 5.1 boulbeurte slegs 4 lopies afgestaan en 6 paaltjies geneem. George is beperk tot slegs 79 lopies.
Mosselbaai kolfbeurt
Mosselbaai se kolfbeurt kon skaars slegter begin en die span het vroeg drie onnodige paaltjies vir slegs 11 lopies deur swak houe verloor.
Christo van Schalkwyk, met 32 lopies, het egter 'n goeie kapteinsbeurt gespeel en saam met Barry Oosthuizen, 17 lopies, die telling tot 60/3 gerek, maar beide het naby die wenstreep met swak houe hul paaltjies afgestaan. Christopher Bosch 15* en Stefan Terblanche 2* het egter met oordeelkundige kolfwerk die wenteiken van 80 in die 19de boulbeurt verkry en Mosselbaai die wedstryd met vyf paaltjies beklink.
Mosselbaai het vanjaar 'n talentvolle span, maar die wedstryd het weer eens bewys dat die min tyd wat spandeer word op die kolfblad en in die veld gedurende die reëngeteisterde seisoen 'n groot invloed het. 'n Wen is egter 'n wen en die span sal voortbou op die oorwinning.
Ander wedstryde
In Mosselbaai op D' Almeida Stadion het Sussex teen Union Stars van Oudtshoorn vasgeval. Sussex kon net 126 aangeteken. Union Stars het die wentelling van 127 behaal met net vier paaltjies plat en dus gemaklik met ses paaltjies geseëvier.
Mayflower van Groot-Brakrivier se tuiswedstryd teen NMMU van George kon nie plaasvind nie, aangesien die veld steeds nat was na verlede naweek se baie reën.
Elders het Pirates United van Knysna Saterdag verras deur Harlequins Forces van Oudtshoorn te klop. Harlequins het eerste gekolf en is almal uitgehaal vir 153. Envirino Swartz, 43, Sidwill Williams 25* en Emile Deysel het uitgeblink met die kolf vir die besoekers. Vir Harlequins het Mervyn Bock 3/33 en Tyler Bezuidenhout 2/19 met die bal hul staal gewys.
Pirates United het die wentotaal van 155 met slegs vier paaltjies af verkry en met ses paaltjies gewen. Irvin Campher 63* en Marshall Philander 36* was nog voor die penne toe die wenteiken behaal is. Deagan May met 20 lopies het ook 'n bydra gelewer.
Pacaltsdorp was die afgelope Sondag in aksie teen die einste Pirates United, maar kon Pirates nie voortbou op hul oorwinning teen Harlequins nie. Pacaltsdorp het eerste gekolf en 192/6 aangeteken in hul toegelate beurte, met Carl Meyer 88 en Ruall De Reuck wat met die kolf uitgeblink het. Die beste boulers vir Pirates was Reginald Donson 4/33, Irvin Campher 2/28 en Tyler Bezuidenhout 2/39. Pirates kon net antwoord met 139 lopies, 53 kort en dus aan Pacaltsdorp die oorwinning besorg. Vir Pirates het Daryl Sigula 34, Ricky Bell 27 en Riginald Donson 21 die beste gevaar met die kolf. Vir Pacaltsdorp het Enver Bezuidenhout 4/29, Angelo Christians 3/24 en Danvor Muller 2/28 Pirates van 'n oorwinning weerhou.

Die Mosselbaai Krieketspan teen George was, agter, van links; Ettiene Roets, Christo Van Schalkwyk, kaptein, Stefan Terblanche, Nelis Van Der Linde, Shaun Struwig, Riekie Lessing, Shane Smith. Voor is Ruan Moore, Buks Burmeister, Heinz Kruger, afrigter, Barry Oosthuizen, Christopher Bosch. Foto: Dirk Lewis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'