MOSSELBAAI KRIEKETNUUS - Hoërskool Punt is trots om weer eens, in samewerking met KFC Heiderand en Voorbaai, die KFC Punt-krieketfees vir o/19-spanne aan te bied.
Dit is vanjaar die 21ste keer dat skole van regoor Suid-Afrika hier in die Suid-Kaap bymekaar gaan kom om krieket te speel. Die fees begin Saterdag, 21 September.
Die doel van die fees is om vir o/19-seuns die geleentheid te bied om hul vaardighede te slyp, vriendskappe te smee en die pragtige omgewing te verken en te geniet om sodoende tot die ontwikkeling van die plaaslike krieket en gemeenskap by te dra.
"Ons vorm ook met trots deel van die Mosselbaai-munisipaliteit se jaarlikse sportfees wat 'n aktiewe leefstyl aanmoedig, en Mosselbaai, die dorp bemark."
Vanjaar neem 26 skole aan die toernooi deel. Wedstryde word in George, Oudtshoorn en Mosselbaai gespeel en wedstryde sal daagliks om 09:30 by die verskillende velde afskop. "Ons nooi almal uit om die verskillende velde te besoek en ons spanne te ondersteun. Hoërskool Punt en KFC is trots om deel te wees van hierdie projek."
Enige navrae kan aan Rudolf Botha by puntkrieketfees@gmail.com gerig word.
Die Punt-krieketfeesspan. Voor: Reece Taljaard, Kyle Moodley, Miguel Godinho, Heinrich Kamineth, Keith du Toit, Keanu Cilliers en Gerhard Vosloo. Agter: Mnr J Slabber (spanbestuurder), Dale Jansen, Rohan Pace, Heinrich Alberts, Jan-Hendrik Marx, Estian Hobbs, Ian Visser, Conrad Strydom en Zach Oellrich.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'