MOSSELBAAI, KRIEKET-NUUS - Hoërskool Punt is trots om weer eens, in samewerking met KFC Heiderand en Voorbaai, die jaarlikse KFC Punt-krieketfees vir o/19-spanne aan te bied.
Die fees vind vanaf 29 September tot 2 Oktober plaas en vorm deel van die Mosselbaai-munisipaliteit se sportfees wat ‘n aktiewe leefstyl aanmoedig en Mosselbaai, die dorp, bemark.
Dit is vanjaar die 20ste keer dat skole van regoor Suid-Afrika hier in die Suid-Kaap bymekaar gaan kom om krieket te speel.
Die doel van die fees is om vir o/19-seuns die geleentheid te bied om hul vaardighede te slyp, vriendskappe te smee en Mosselbaai se pragtige omgewing te verken en te geniet om sodoende tot die ontwikkeling van plaaslike krieket en die gemeenskap by te dra.
Vanjaar neem 26 skole aan die toernooi deel. Wedstryde word in George, Oudtshoorn en Mosselbaai gespeel en sal daagliks om 09:30 by die verskillende velde afskop.
Hoërskool Punt nooi almal uit om die verskillende velde te besoek en hulle spanne te ondersteun.
"Hierdie is ‘n trots Hoërskool Punt en Mosselbaai-dorp geleentheid," sê mnr Rudolf Botha, hooforganiseerder van die fees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'