TUINROETE DISTRIK KRIEKETNUUS - Glenton Stuurman van Oudtshoorn is deur Krieket SA (KSA) vir die senior Protea-eendagspan opgeroep.
Stuurman, of "Tokka", soos hy ook alombekend is, is deel van 'n 24-man groep wat Engeland vanaf 27 November tot 9 Desember in drie T20 en drie eendagwedstryde op Nuweland en Boland Park gaan pak.
Stuurman het sy debuut vir die SWD in 2013 gemaak en dié streek in 26 eersterangse, 20 eendag en agt T20-wedstryde verteenwoordig voordat hy verlede jaar by die Warriors in Port Elizabeth aangesluit het waar hy steeds onder die afrigterskap van die voormalige Protea-draaibalbouler, Robin Petersen, speel. Tot dusver het hy in tien wedstryde 35 paaltjies platgetrek.
In Julie vanjaar was hy ook deel van KSA se 3T Solidarity Cup-spanne waar hy die kleedkamer met groot name soos Faf du Plessis (voormalige Protea-kaptein), Reeza Hendricks, Tabraiz Shamsi en Heinrich Klaassen gedeel het. Hy is ook al voorheen wedstryde vir die SA A-krieketspan gespeel.
Hoewel Stuurman op hierdie stadium nie onderhoude aan die media mag toestaan nie, het Tokka wel Maandag vir Oudtshoorn Courant, susterskoerant van die Mossel Bay Advertiser 'n kort video gestuur waarin hy almal bedank het vir die hordes gelukwensinge wat hy intussen ontvang het. Hy het gesê dat hy besonders geëerd en opgewonde voel oor die voorreg om sy land te verteenwoordig.
In 'n verklaring wat deur SWD-krieket uitgereik is het die nuwe nasionale keurdersameroeper, Victor Mpitsang, die nuwe spelers gelukgewens met hul opname en bevestig dat 'n bioveilige-omgewing in plek is om die veiligheid van die spelers gedurende die kragmetings met Engeland te verseker.
Die T20-wedstryde se datums is as volg:
Vrydag 27 November om 18:00
- SA teen England op Nuweland in Kaapstad
Sondag 29 November om 14:30
- SA teen Engeland op Boland Park in Paarl
Dinsdag 1 Desember om 18:00
- SA teen Engeland op Nuweland in Kaapstad
Die eendagwedstryde se datums is as volg:
Vrydag 4 Desember om 13:00
- SA teen Engeland op Nuweland in Kaapstad
Sondag 6 Desember om 10:00
- SA teen England op Boland Park in Paarl
Woensdag 9 Desember om 13:00
- SA teen Engeland op Nuweland in Kaapstad.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'