GARDEN ROUTE CRICKET NEWS - Brendon Louw (28), SWD-krieketunie se mees ervare speler ooit in al drie formate van dié spel (200 eendag, T20 en 4-dag), het onlangs 'n aanloklike kontrak met die Cape Cobras gesluit wat 'n einde bring aan dié veteraanspeler se sprokiesverhaal van bykans 11 seisoene by dieselfde unie.
"Ek is natuurlik in ekstase, maar in dieselfde asem sal ek nooit genoeg kan dankie sê vir dit wat SWD-krieket vir my loopbaan beteken het nie. In 2009, net na skool, is ek vir die eerste keer in die seniorspan opgeneem en vandaar het ek nie weer teruggekyk nie.
"Hier moet ek vir Johan Weyers (SWD-o.18 afrigter) en Gary Hampson (KSA senior krieketbestuurder) uitsonder vir die skaafwerk aan my spel oor die jare."
Louw, wat op Plettenbergbaai gebore is en tans in George bly, sê dat hy van laerskooldae af krieket as somersport verkies het terwyl hy hokkie (o.17 nasionale speler) in die winterseisoen beoefen het. Dié hotklou paaltjiewagter/kolwer se groot deurbraak in krieket het in gr. 11 (2008) gekom toe hy vir die SA skolespan gekies is.
Dieselfde jaar is hy ook tydens die Coca-Cola-toernooi as kolwer van die toernooi aangewys. Direk na sy skoolloopbaan in 2019 het die SWD-krieketunie hom opgeraap - voorwaar 'n toonbeeld van die gesegde in sportgeledere: "As jy goed genoeg is, is jy ook oud genoeg."
"Oor die jare heen het ek al baie hoogtepunte ervaar, maar die oomblik wat altyd by my sal bly is my debuut-honderdtal wat ek in 2011 teen Oostelike Provinsie gemoker het. Ek beskou Albie Morkel (voormalige Protea-veelsydige speler) as die beste bouler teen wie ek al gespeel het.
"Hoewel Morkel nie juis 'n spoedvraat was nie, is dit sy akkurate boulwerk en uitgeslapenheid as bouler waarvoor ek die grootste agting het."
By die Cobras sal Louw met Kyle Verryenne moet meeding vir 'n plek in die span. Verreynne is onlangs in die Protea-seniorspan gekies. Oor sy eie aspirasies om eendag self vir die nasionale krieketspan te speel sê Louw dis beslis moontlik mits hy foutloos met die handskoene vertoon en konstant lopies aanteken.
Albertus Kennedy, SWD se hoof- uitvoerende beampte, het Louw alle voorspoed vir die toekoms toegewens en sê sy rekords by die SWD getuig van sy ontsaglike bydrae wat hy tot die unie gemaak het.
"Hy is beslis een van die mees uitstaande spelers wat die SWD nog verteenwoordig het."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'