ATLETIEK NUUS - Worpe-atlete van Mosselbaai het Saterdag, 15 Augustus aan die Menlo VSA virtuele byeenkoms deelgeneem.
Die nat, koue weer was 'n uitdaging, maar almal het die beste daarvan gemaak.
Die atlete het aan vyf items deelgeneem en spog met drie persoonlike beste prestasies, twee goue medaljes en drie silwer medaljes.
Daar was meer as 400 atlete wat aan hierdie eerste byeenkoms deelgeneem het met meer as 36 skole vanuit Suid-Afrika en Namibië wat verteenwoordig is. Die kompetisie is deur die Hoërskool Menlopark aangebied in vennootskap met BackTrack Sports, 'n digitale mediamaatskappy wat spesialiseer in atletiek.
Mosselbaai se Frik Ferreira (senior mans) het goud in die spiesgooi en silwer in die diskus en gewigstoot verower. In die seuns onder 15 het Grant de Nobrega silwer in die spiesgooi behaal terwyl Anke Boshoff goud in spiesgooi vir meisies onder 11 verower het.
Die wenners asook die virtuele ranglys word op die webtuiste www.backtrack.co.za gepubliseer.
Die Eden Athlete Management Services se baanatlete neem Saterdag, 22 Augustus aan die SA Christian Schools Sport Association se virtuele-landloopbyeenkoms deel terwyl die volgende baan- en veldbyeenkoms geskeduleer is vir 29 Augustus.
Nuwe atlete is welkom om Jannie Nel (083 265 0798) te kontak om aan te sluit by hierdie oefengroep.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'