TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - SA Tweekamp het op 'n geskiedkundige spesiale jaarvergadering op Woensdag, 8 September, ingrypende besluite geneem om tweekamp in Suid-Afrika by die eise van die vinnig-veranderde omstandighede aan te pas.
Al die provinsies en die volle SA Bestuur was teenwoordig.
Dave van der Walt, operasionele bestuurder, Eden Tweekamp het in 'n verklaring gesê die veranderinge sal alreeds die komende seisoen in werking tree, toegegee die Covid-inperkingsomstandighede.
Dit behels in kort dat daar groter samewerkings met SA Vyfkamp gaan wees. "Dit gaan behels dat ons tweekampers ‘n “mind shift” sal moet maak om daarby aan te pas."
Hierdie aanpassings het egter onder andere tot voordeel dat:
- Internasionale deelname moontlik gaan word;
- Byeenkomste se tydsaspek van aanbieding heelwat korter gaan wees;
- Heelwat meer aktiewe atlete betrek kan word;
- Ouderdomsgroeperinge nou aanpas by atletiek s’n. (Word bepaal deur ouderdom op 1 Januarie).
Eden Tweekamp het 'n opname onder sy atlete en bestuurslede gedoen en 77% het aangedui dat hulle ten gunste van die verkorte afstande is.
Belangrike inligting:
- Die balans-gewig tussen swem en hardloop word bepaal.
- Met die aanvang van die seisoen in September alreeds neem atlete deel in die volgende jaar se ouderdomsgroep (en afstande).
- Byeenkomste (Interprovinsiaal en Nasionaal) word meer hanteerbaar.
- Die seisoen gaan nou moontlik deur die jaar strek (deelname aan Biathle, Laser-run, ens, onder SA Vyfkampvaandel).
- Die nuwe tabelle sal nou opgestel word en gou aan provinsies beskikbaar gestel word.
- Alle administrasie in Eden bly egter soos voorheen in ag genome die aanpassings.
- Wees geduldig met die infasering van die nuwe stelsel – daar mag haakplekke voorkom.
SA Tweekamp het Eden Tweekamp versoek om die eerste SA Kampioenskappe in die formaat in Maart/April 2022 op Oudtshoorn aan te bied.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'