TUINROETE DISTRIKSNUUS - Soos met alle sportkodes gebeur het, het Covid-19 ook 'n effek op die Eden Straatmylreeks gehad.
Daar is baie navrae of dié gewilde byeenkomste weer vanjaar gaan plaasvind aangesien daar min wedlope beplan is sodat topatlete hul kwalifikasie vir die Olimpiese Spele kan opskerp.
Die organiseerders, onder voorsitterskap van Hans van der Veen, beplan al vanaf Januarie 2020 aan alternatiewe.
Die positiewe ondersteuning van NWU, Vrystaat Universiteit, ATKV Hartenbos, EdenFM, ASWD en moontlik die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, het die groen vlag gehys.
Ook ASA is in die proses om ministeriële toestemming te verkry sodat atletiek alreeds vroeg in November weer kan begin. Dit het die pas vir die Eden Straatmylreeks oopgemaak.
Op 1 Oktober het die reëlingskomitee met die belangrikste rolspelers 'n Zoom-vergadering gehou.
Die volgende aankondigings is gemaak:
- Drie mylbyeenkomste word beplan -19 Desember die Klein Karoo Straatmyl op Oudtshoorn; 21 Des die NWU/VSU Baanmylbyeenkoms op Oudtshoorn (met baanitems soos 80m, 100m, 400m, aflosse en een of twee velditems) en die laaste straatmyl is op 23 Desember by die ATKV op Hartenbos;
- NWU het hulle borgskap verdubbel sedert 2019;
- Vir die eerste keer gaan daar ook korter baanitems (ook aflosse) en velditems as deel van die baanmylbyeenkoms op Oudtshoorn plaasvind;
- Interklub/tersiëre klubkompetisie gaan plaasvind met 'n wisseltrofee vir die wenner;
- Die aanlyn-inskrywings open alreeds 15 Oktober op die webtuiste (www.edenmiles.co.za). Op die webtuiste sal ook al die ander inligting gevind word;
- Die prysgeld sal eers nader aan die byeenkomste bepaal word aangesien die organiseerders nou hard werk om nog borge aanboord te bring.
Alle Covid-19-protokol sal toegepas word. 'n Covid-19-beheerbeampte sal toesien dat alle reëls gevolg word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'