MOSSELBAAI NUUS - Die Bestmed Eden-straatmylreeks vind vanjaar van 17 tot 21 Desember plaas.
Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van die Klein-Karoo-atletiekfonds, is Bestmed weer eens die borg van dié gewilde vakansiereeks.
"Die fietsrykermesse, wat by die NMU George-kampus aangebied word, is vanjaar weer op die program. Bestmed bied ook verskeie aktiveringsprogramme op van die Suid-Kaapse strande aan. Vanjaar word ook beplan om dit verder uit te brei om MTB en Hiking op die NMU-program by te voeg. Dit word weer onder die beskerming van die KKAF en in vennootskap met ASWD, Eden-fietsry, NMU en die ATKV aangebied."
Onderskeie bene:
Die eerste been van die reeks, die Bestmed Klein Karoo-straatmyl, word op 17 Desember op Oudtshoorn aangebied. Dit vind in Baron van Reedestraat plaas.
Die tweede been, die Bestmed Madibaz-straatmyl, vind op 19 Desember op die NMU George Kampus plaas.
Die derde been, die Bestmed ATKV-straatmyl, vind op 21 Desember by die ATKV-terrein in Hartenbos plaas.
Van der Walt sê daar word weer vanjaar spesiale gemeenskapsprojekte op sekere strande deur Bestmed aangebied om die algemene vakansiepubliek ook te betrek. "Soos verlede jaar word medaljes weer toegeken en word dit saam met 'n prysgeldbeurs van R80 000 aan die top 1 500 myl-atlete oorhandig. Die uniekheid van hierdie reeks lê in die feit dat elke dorp sy unieke straatmylidentiteit behou, maar tog deel vorm van die Bestmed Eden-straatmylreeks omdat die Grand Prix-wenner oor al drie byeenkomste bepaal word. Die Universiteit van die Vrystaat borg die Grand Prix-reeks."
Die mans- en vroueatleet wat die meeste punte oor die drie bene het, kan met die groot prys wegstap.
In die afgelope vier jaar is nie minder as ses droommyle (sub 4 minute) in die reeks gehardloop nie - Johan Cronje (3:52.60), Dumisane Hlaselo
(3:55,71), Elroy Gelant (3:56,74), Nyongo Amos (3:55,60 en 3:52,99) en Jerry Motsau (3:59,81).
Katogorieë:
• Die atletiekstraatmyle word in die volgende kategorieë aangebied: sub-juniors (9-13 jaar), juniors (14-19 jaar), elite/ope (20-39 jaar) en 40+ (40+ jaar). Daar is ook vanjaar addisionele pryse vir die eerste Eden-atlete oor die wenstreep.
• Die fietsry-mylren (Oudtshoorn) asook die kermesse (NMU) se kategorieë is sub-juniors (o/9, o/11 en o/13); juniors (o/15 en o/17), elite (o/23 en Vet - 34 jaar) en Veterane (35-49 jaar, Vet 50+ jaar).
Aanvullend tot die borge reeds genoem, is EDENfm (radio-borg), Group Editors (mediaborg), Oudtshoorn Ford en Klein Karoo Internasionaal.
Inskrywings:
Die inskrywings word aanlyn gedoen en sal binnekort oop wees – besoek gerus www.edenmiles.co.za .
Alle reëlings rondom die byeenkomste en akkommodasie kan ook op dié webtuiste gevind word.
Vir enige navrae kan kontak die organiseerders deur www.edenmiles.co.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'