MOSSELBAAI NUUS - Sedert 5 Desember 2015 word die Hartenbos-parkrun by Kleingeluk net buite Hartenbos aangebied.
Tydens 196 parkruns wat daar aangebied is waartydens 77 498 voete wat oor die eindstreep gehardloop, gedraf of gestap het, en met 6 446 vrywilligers wat hierdie geleenthede moontlik gemaak het, is dit tyd om 'n nuwe avontuur aan te pak.
Op 7 September verhuis die parkrun na Outeniquabosch Wildlife Village. Hierdie skuif gaan gepaard met gemengde gevoelens. Daar is groot opgewondenheid om in 'n nuwe omgewing met baie wildlewe en 'n pragtige uitsig van die dorp en baai deel te neem, asook om die uitdaging om nuwe persoonlike beste tye op te stel aan te vat.
"Maar daar is egter ook 'n tikkie hartseer oor die baie herinneringe wat ons agterlaat by Kleingeluk en al die prettige tye wat ons daar gehad het. Die opgewondenheid is egter meer as die heimwe," sê Ita van Rensburg, een van die parkrun-koördineerders.
"Hartenbos-parkrun bedank Tewie en Stefanie Wessels dat ons Kleingeluk ons tuiste kon maak vir amper vier jaar. Dit was werklik 'n onbaatsugtige diens aan Mosselbaai se gemeenskap van hulle kant af."
Eerskomende Saterdag, 7 September word almal uitgenooi om saam die nuwe parkrun-avontuur te begin by Outeniquabosch (net langs Monte Christo) wat gepaard sal gaan met 'n lentetema.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'