ATLETIEK NUUS - Nege van Mosselbaai se plaaslike 32Gi hardloop-klub se atlete het op 11 Junie die moordende Comrades-ultramarathon voltooi.
Ses atlete het al telkemale die marathon voltooi en drie atlete het die tog vir die eerste keer aangepak.
Maryke Sass het haar 15de Comrades voltooi in 'n tyd van 9:37. Bernidene Thieroff en Christa Coetzee het beide hul agtste marathonne voltooi met tye van 10:58 en 11:12 onderskeidelik.
Met sewe marathonne agter die rug het Antoinette du Preez 'n tyd van 11:51 gehardloop. Lucy van Wezel het haar vierde Comrades voltooi met 'n tyd van 11:31, terwyl Sonja Munro haar tweede Comrades voltooi het met 'n tyd van 10:48.
Die drie beginners, wat hul eerste Comrades gehardloop het, was Werner Botha met 'n tyd van 09:37, Kosie Gericke met 10:02 en Ketho Mlombo met 10:58.
"Die begin in Pietermaritzburg was koud. Durban was warm. Tussen alles deur die seer en vasbyt, was dit 'n ongelooflike ondervinding en is daar atlete wat sonder twyfel dié wedloop volgende jaar weer sal aandurf," het Gericke aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Die atlete het ook almal bedank vir hulle ondersteuning.
Bernidene Thieroff
Lucy van Wezel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’