HARTENBOS NUUS - Vier vroue van die Hartenbos-drawwersklub het op Saterdag, 20 April in die pad geval om die Twee Oseane-halfmarathon te stap.
Santie van Deventer, Elaine Diesel, Bessie Badenhorst en Regina van Mollendorff het elke tree van hierdie veeleisende 21 kilometer gestap.
En hierdie viermanskap is nie groentjies nie – die jongste van hulle is 60 jaar oud.
Santie en Bessie het hierdie halfmarathon al 11 keer voltooi en daarmee hul permanente blou nommers verdien.
Elaine het al agt medaljes op haar kerfstok en Regina sewe.
Dit was hierdie jaar die 50ste keer dat die Twee Oseane-marathon aangebied is. Stappers se afsnytyd is presies dieselfde as vir drawwers. Drawwers mag stap, maar stappers mag nie draf nie!
Elaine Diesel is die vrou wie se huis in Januarie in die verskriklike brand in Hartenbos Heuwels totaal verwoes is. Daarbenewens is sy enkele weke gelede deur 'n onverskillige motoris raakgery toe sy geoefen het. Vasberadenheid en volharding is haar leuse.
Die vier vroue het al 'n paar sakke sout saam opgeëet toe hulle in 2015 die Camino de Compostela in Spanje saam gestap het. En nog is dit het einde niet, want Bessie en Santie klim weer in Augustus op die vliegtuig.
Hierdie keer gaan hulle die volledige Camino van meer as 900 kilometer stap. Stap is in hierdie vroue se bloed en hulle is dankbaar vir gesondheid en uithouvermoë wat hulle in staat stel om ure lank te oefen. Ons salueer julle!
'Ons bring jou die nuutste Hartenbos, Tuinroete nuus'