MOSSELBAAI NUUS - Nico Dippenaar van Total Groot Brak borg reeds sedert 2008 die gewilde Moordkuilwedloop in Friemersheim. Hierdie pragtige 15km-boswedloop vind op Saterdag, 23 Desember om 08:00 plaas.
Aanlyn inskrywingsgeld beloop R90 vir die 15km en sluit die 18de Desember (R20 word bygereken vir laat inskrywings). Tydelike lisensienommers kos R35 indien jy nie aan 'n klub behoort nie. Die koste vir die 4km-pretdraf wat om 08:10 begin, is R30 per persoon. Inskrywings kan ook op Vrydagmiddag, 22 Desember vanaf 18:00 tot 19:00 by Total Groot Brak gedoen word of die Saterdagoggend vanaf 05:45.
Almal wat die wedloop voltooi ontvang 'n pragtige nuwe 60mm-medalje. Vir die pretdrawwers oor 4km is daar 'n nuwe reeks gekleurde medaljes wat jy by al Hartenbos Drawwers se wedlope bymekaar kan maak. Alle kategoriewenners ontvang goue medaljes terwyl die eerste 50 mans en eerste 50 vroue, silwermedaljes ontvang. Die volgende 300 deelnemers ontvang bronsmedaljes.
Die wedloop, wat voorheen by die stadion begin en eindig het, skuif nou na die VGK-gemeentesaal op Friemersheim. Prysgeld ter waarde van R5 000 is op die spel. Joan Speelman, voorsitter van die VGK-gemeente Friemersheim gaan op die dag heerlike roosterbrood met wors, lewerkoekies, konfyt of kaas te koop aanbied. Die baie gewilde jeug blaasorkes van Josie Domingo gaan ook sorg vir musiek in die bos.
Vir meer inligting kan Kleintjie (072 8774 121) of Adèle (082 562 5841) geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'