Video
SPORTNUUS - Die Comrades-ultramarathon, wat oormôre, tussen Pietermaritzburg en Durban beslis word, word vanjaar oor 'n afstand van net oor die 87km afgedraf. Weens padwerke is die afstand effens korter as normaalweg.
Uit die Tuinroete-distrik, is daar verskeie van ons atlete wat al voor die naweek en deur die week vertrek het, op pad na die 96ste Comrades.
Virginia (Kleintjie) van Schalkwyk (59) van die Hartenbos Drawwers-klub, het as 18-jarige aan haar eerste Comrades deelgeneem. Voltooi sy Sondag dié roete, sal sy met 'n uitsonderlike prestasie spog. Sy sal dan met 35 pogings die vrou met die meeste wedlope agter haar naam wees.
"Ek is op skool as Kleintjie herdoop," vertel sy. Hierdie klein petit-vrou, wat as jong meisie 'n uitstekende atleet was, is vir menige ander vrouens 'n groot inspirasie.
Haar vorige 34 voltooide wedlope, was nie agtereenvolgens nie. Die geboortes van haar en haar man, Pierre van Schalkwyk of Skalla soos almal hom ken, se twee kinders en die twee jaar toe sy moes terugstaan met voetprobleme, het 'n rol in dié onderbrekings gespeel. Ná 'n operasie is sy die versekering gegee dat sy weer soos normaal sou kon hardloop. En natuurlik het Covid-19 ook in 'n stadium 'n seggenskap gehad.
Haar en van haar mede-drawwers se oefenprogram by klub, word uitsluitlik gevolg met die oog op die Comrades. In haar jonger dae het sy ook jare aan Ysterman-kompetisies deelgeneem.
Daar is nog 'n vroutjie, wat met 33 voltooide wedlope spog. "Ek sal, terwyl ek kan, so lank as moontlik probeer om voor te bly," sê sy. "Op my ouderdom voel dit elke keer of ek vinniger hardloop, maar dis nie wat die tyd sê nie," vertel sy laggend. Kleintjie se vinnigste tyd in die Comrades is 7:49 toe sy in haar twintigs was. "Ek is gesond en draf hou my fiks en ek geniet die sport."
Kleintjie kan egter nie veel wys van die afgelope 59 jaar nie. Op Maandag, 21 Januarie 2019, verwoes 'n veldbrand hulle huis op Hartenbos Heuwels en die Van Schalkwyk-gesin het alles verloor. Al die erfstukke, herinneringsgoed, foto's en medaljes van haar luisteryke atletiekloopbaan was daarmee heen. Die gesin was nie tuis ten tyde van die brand waarin nog 'n huis in die slag gebly het. Die huis is egter herbou en hulle het aangegaan met hul lewens.
Sedertdien is sy weer besig om die medal-jes in te ryg soos sy aan wedlope soos die Twee Oseane en natuurlik die Comrades bly kafdraf. Op die pad by die Comrades is sy werklik al 'n meester. "As ek daar is en begin draf, ken ek al elke draai en weet waar ek opdraende en afdraende gaan kry," vertel sy.
VIDEO - Kleintjie mik na 35 Comrades maratons (Video: Jannie du Plessis).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’