MOSSELBAAI NUUS - Na die teleurstellende afstel van die 2020 Eden-straatmylreeks weens Covid-19-inperkings bons die 2021 Eden-straatmylreeks in Desember 2021 weer terug met 'n veerkragtigheid wat gekenmerk word deur puik prestasies.
Waar in Suid-Afrika kry jy ses droom straatmyle in vyf dae, wat ook vyf roete- en baanrekords insluit? 2021 was ook die eerste keer dat 'n atleet by al drie bene droommyle gehardloop het.
Die ster van die reeks was ongetwyfeld Ryan Mphahlele van die Tembisa AC. Boonop word hy en Jerry Motsau (PTC) die eerste droommyl-atlete wat die moeilike ATKV-roete in Hartenbos tem. Mphahlele word dan ook as die mans Gran Prix-wenner gekroon.
Motsau spog self met twee droommyle in vyf dae en Bruce-lyn Damons (Nedbank CT) verdien vermelding met sy eerste droommyl ooit.
Carina Viljoen (Murray & Roberts AC) het vanjaar die vrouewedlope oorheers en verbeter ook die Klein Karoo roeterekord (4:36.33), asook die Swartberg baanrekord (4:43.08).
Die junior Danielle Verster (PTC) het vir goeie teenstand gesorg met Simonay Wietsz (TUKS) en Kesa Molotsane (Murray & Roberts) wat die top vier se stryd interessant gehou het. Viljoen is dan ook gekroon as die vroue Gran Prix-wenner.
Die top SWD-atlete vir die reeks was Lloyd Bosman (Nedbank) en die 12-jarige Caitlin Cawood (Nedbank). Die 17-jarige Jandri Snyders van Hartenbos Drawwers hou Mosselbaai se naam hoog toe sy die ASWD vroue-afdeling tydens die ATKV-roete in palm.
Carina Viljoen wen die vroue-wedloop.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'