Gallery Video
TUINROETE ATLETIEKNUUS EN VIDEO - Dit was beslis moeiliker as die regte Comrades, sê Eddie Mouton (48), die man wat Sondag, 13 Junie eerste van die deelnemers aan die Tuinroete/SWD se eie Comrades in Wilderness klaargemaak het.
Hy en 'n groep van sowat 40 deelnemers het Sondagoggend 05:30 in Brenton-on-Sea by Knysna weggespring.
Deelnemers kon kies tussen 45km en 90km. Die meerderheid deelnemers het die 45km gehardloop wat by Karatara klaargemaak het. Mouton en 'n ander kleiner groep het tot in Wilderness gehardloop.
Die wedlope was deel van die Comrades Marathon Centenary Hope Challenge en is gehou as vieringe vir die 100-jarige herdenking van die Comrades.
Die organiseerders van die geleentheid was Diana Mouton, Eddie Mouton en Alta Zeelie van Nedbank ASWD.
Fotogalery: "Comrades" begin by Brenton-on-Sea in 2021
Mouton is natuurlik iemand wat weet waarvan hy praat want hy het al 25 formele Comrades voltooi en na Sondag, twee virtuele Comrades. Sondag was sy tyd 8 uur en 40 minute.
Volgens Mouton was daar Sondag baie klimme en sowat 60% was grondpad wat ander uitdagings gestel het.
Twee deelnemers, wat die volle Comrades tot in Wilderness gehardloop het, Samuel Mandlazi en Willard Jussa kon nie uitgepraat raak oor die ondervinding nie. Hulle het dit in 9 uur en 15 minute voltooi en was dit eens dat hulle dit baie geniet het.
Kyk 'n video hieronder:
Mandlazi het al verskeie maratons gehardloop en die was sy tweede virtuele Comrades. Hy het dit as 'n baie moeilike roete beskryf.
Jussa het gesê die moeilikste deel was toe hy by die halfpadmerk gekom het.
Wilhelm Lodewyk van Mosselbaai (4 uur 27 minute) het gesê was 'n bietjie moeilik. Zeelie, wat self die 45km wedloop voltooi het, het gesê dit was een van die moeilikste wedlope waaraan sy nog ooit deelgeneem het.
Volgens haar was die geleentheid 'n groot sukses. Anel van Wyk het eerste klaar gemaak in die 45km-wedloop in 'n tyd van 4 uur 9 minute.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'