Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die 2018 Bestmed-straatmylreeks is Woensdag, 14 November tydens 'n glansryke geleentheid by Na Donker-restaurant in Hartenbos amptelik bekendgestel.
Die reeks, wat oor drie bene strek, skop op 17 Desember in Oudtshoorn af as die Klein Karoo Bestmed-straatmyl met 'n straatmyl, atletiek en fietsry. Dit word op 19 Desember by die NMU in George voortgesit met bergfietsry, 'n straatmyl en staproetes op die Outeniquaberge se wandelpaaie.
Op 21 Desember vind die ATKV Hartenbos se straatmyl plaas, met nog verskeie items, wat ook sport op die strand insluit.
By die opening het Karen Phipson (ATKV Hartenbos se hoof van bemarking) Bestmed bedank vir hul bydrae tot die sukses van die straatmylreeks. "As dit nie Bestmed was nie, sou hierdie reeks nie 'n sukses gewees het nie," het sy aan Wicus Kotzé, Bestmed se bestuurder gesondheidsorg, gesé.
Phipson het daarop klem gelê dat mens moet belê in opkomende sportlui se toekoms. "Ons is opgewonde oor vanjaar se straatmylreeks.
"Vir ons is dit belangrik om te belê in dit wat dieselfde waardes as ons dra. Ons wil 'n verandering maak deur sport," het Hugo Laubser namens NMU gesê:
Eden sport- en rekreasie se waarnemende kantoorhoof, Jean Neethling het dit as 'n voorreg beskryf om in die straatmylreeks te belê. Hy het die inisieerder van die reeks, Hans van der Veen gesalueer vir dit wat hy vermag het. Van der Veen, 'n bestuurslid van die Klein-Karoo-atletiekfonds (KKAF) het op sy beurt gesê: "Almal van ons wat hier staan glo in die mag van transformasie van ons volk. Hier is iets ongeloofliks besig om plaas te vind.
"Ons het 'n keuse. Of ons stap weg van die lewe se uitdagings of raak deel van dié wat 'n verskil wil maak," was sy woorde aan die gaste.
LJ van Zyl, Olimpiese atleet en Bestmed-ambasadeur vir die reeks, het ook die geleentheid bygewoon. Hy het die atlete en organiseerders sterkte toegewens.
Vir meer iligting, besoek www.edenmiles.co.za.
Eregaste by die Eden Bestmed-straatmylreeks se bekendstelling, is Hans van der Veen (KKAF), LJ van Zyl (Bestmed), Hugo Laubser (NMU), Jean Neethling (Sport en Rekreasie), Wickus Kotzé (Bestmed), Karen Phipson (ATKV), Dave van der Walt (KKAF] en Jaco Kriek (gaskunstenaar).Foto: Christo Vermaak
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'