MOSSELBAAI NUUS - Hoërskool Punt graad 10-leerder, leerder Elné Conradie is besig om naam te maak in die atletiekwêreld.
Elné het onlangs tydens die skool se kleuresportbyeenkoms die 1 500m-rekord vir meisies o/17 wat deur die Springbokatleet, Sharon Bates in 1976 opgestel is, verbeter.
Die rekord was 5 minute 13 sekondes en Elné het dit verbeter na 4 minute 57 sekondes. Boonop was dit ook die eerste keer vir Elné dat sy die 1 500m in onder 5 minute voltooi.
Elné het drie jaar gelede aan atletiek begin deelneem en neem nou deel in die meisies o/17-afdeling.
Die Mossel Bay Advertiser het by Elné aangeklop met 'n paar vrae:
Vertel ons aan watter atletiekitems jy deelneem en waar jou liefde vir atletiek begin het?
In graad 7 wou ek saam met my ouboet Eben fiks word vir die netbalseisoen en ons het by mnr Marius du Randt van Hoërskool Vaalharts begin oefen.
Meneer du Randt het my talent raakgesien en my met 'n 800m-program begin oefen. Daardie jaar het ek Noord-Kaap-kleure in atletiek en landloop verwerf.
Ek neem gewoonlik net aan die 800m deel maar het vanjaar ook begin deelneem aan die 400m en 1 500m.
Verder het ek ook 10km- en 15km-padwedlope in 2017 gedoen.
In my afseisoen neem ek deel aan die 5km-parkruns in Hartenbos en vanjaar sal ek weer kompeterend aan die ASA landloopkampioenskap deelneem.
Elné Conradie oefen hard en volg streng 'n oefenprogram.
Hoe gereeld oefen jy?
Ek is deel van 'n oefengroep wat van Maandag tot Vrydag oefen. Saterdae is ons byeenkomsdag en Sondae is ons rusdag. Gedurende die Desembervakansie het ons twee keer per dag geoefen, soggens op die baan en in die middae het ons padwerk gedoen.
Vertel ons meer van julle oefengroep en jou afrigters?
Ons het in Mei 2017 vanaf die Noord-Kaap na Mosselbaai verhuis. My pa, Niël Conradie het my toe afgerig.
Dit was egter baie moeilik om gefokus te bly sonder 'n oefengroep en oefenmaats. Ons het toe by oom Wouter Pretorius se oefengroep aangesluit.
Ons was eers net vyf atlete gewees. Die groep het egter baie vinnig gegroei en goeie suksesse behaal.
Ons is tans 24 atlete wat deur oom Wouter en my pa afgerig word. Tydens die Norman Hauzer-byeenkoms het 11 van ons groep deelgeneem en altesaam 18 medaljes gewen. Ek glo dat 'n sterk oefengroep die beste uit elke individu haal.
Wat behels jou 1 500m oefenprogram en het jy 'n spesifieke strategie?
Ons program is gebou op 'n kragbasis. Ons doen baie kragoefeninge wat bulte, sandduine en gimnasiumwerk insluit.
Ons gee ook aandag aan spier-uithouvermoë, intervaloefeninge en kardiovaskulêre oefeninge.
Voor groot byeenkomste begin ons meer spoedwerk doen. Ons strategie is pasoefeninge.
Ons leer om ons wedlooppas aan te pas sodat ons presies weet wat ons pas per 100m moet wees.
Ons breek die wedloop op in 15 klein wedlope van 100m elk. Ons hardloop met GPS-horlosies wat ons help om tyd en afstand bymekaar te bring.
Elné Conradie hou daarvan om met haar honde op die strand te stap.
Het jy enige raad aan ander atlete wat graag wil presteer?
Ja beslis, dit is nooit te laat om te begin nie. Harde werk en oefening sal altyd talent klop. Jy kan hoe talentvol wees, maar as jy nie oefen nie sal die gemiddelde atleet wat oefen jou altyd ore aansit op die baan.
Hou jou voete op die grond en jou drome hoog in die wolke. Atlete is welkom om my op instagram of facebook te volg by elneconradie.
Ek help graag as iemand raad vra.
Vertel ons van jou familielewe?
Ek het twee broers. My ouer boetie Eben is in graad 11 in Hoërskool Punt. Hy is ook 'n baie goeie middelafstandatleet. My jonger boetie is Niël, hy is in graad 2 in Laerskool Park. My ouers is baie betrokke by ons al drie se skool- en sportaktiwiteite. Ons het ook twee Yorkshire-terriërs Zippie en Leila. Eben het ook 'n Chilean Rose tarantula-spinnekop.
Wat is jou groot droom vir die toekoms?
My droom as 'n atleet is seker dieselfde as enige ander atleet se droom en dit is om my land te verteenwoordig by 'n Olimpiese Spele. In 2024 hoop ek om daar te wees. Na skool wil ek graag in 'n sportrigting studeer.
Elné Conradie in aksie.
Waaraan dink jy as jy lang ente draf?
Ek hou baie van padwerk, ek sien dit as my eie tyd. Dit gee my kans om my kop skoon te kry en te fokus op my doelstellings. Dan dink ek aan my volgende byeenkoms en tye wat ek graag wil hardloop.
Waarmee hou jy jou besig as jy nie op die baan is nie?
Ek hou daarvan om op die strand te gaan stap met my hondjies. Ek hou ook baie van lees, teken en om musiek te luister. Ons oefengroep kom ook gereeld bymekaar vir 'n kuier of 'n braai.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'