HARTENBOS NUUS - Laerskool Hartenbos is gereed om dié naweek vir 'n feestelike atmosfeer te sorg wanneer Laerskool Stellenbosch die dorp besoek vir die jaarlikse interskolebyeenkoms.
Die twee skole gaan van Donderdag 6 Augustus af teen mekaar meeding in 'n verskeidenheid sport- en kultuuraktiwiteite.
Leerders sal hul kragte meet in skaak, hokkie, netbal, rugby, e-sport, algemene kennis, redenaars, tennis, gholf en landloop.
Volgens die skool is daar groot opgewondenheid onder spelers, afrigters en ondersteuners, en die dorp gaan na verwagting behoorlik in blou en rooi gekleur wees tydens die naweek se verrigtinge.
Saterdag se program beloof ook om vir toeskouers heelwat vermaak te bied. Benewens die sportwedstryde sal daar rasieleiers, kosstalletjies en 'n tag-rugbywedstryd waaraan pa's deelneem, wees.
Een van die hoogtepunte van die dag sal wees wanneer die wedstrydbal vir die laaste rugbywedstryd per helikopter op die rugbyveld afgelewer word.
Nog 'n besondere item op die program is die Groot Brag, waartydens die skool se o. 13-spanne amptelik aan die res van die skool en ondersteuners voorgestel sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’