Sponsored Content
SKOLENUUS - Hoërskool Wittedrift se gr.12-groep van 2024 het soos die matriekgroepe voor hulle, baie hard gewerk om die beste moontlike uitslae in die nasionale senior sertifikaat-eksamen te kry.
Met die hulp van 'n span toegewyde en ervare onderwysers is daar van die eerste skooldag van 2024 skouer aan die wiel gesit om leerlinge voor te berei vir die belangrikste eksamen van hul skoolloopbane.
Daar word dikwels vergeet dat dit werklik 'n spanpoging is om gr. 12's te laat presteer in die eindeksamen. Die ouers van hierdie leerlinge het ook 'n groot rol gespeel in die uitslae van die leerlinge en ons as skool is dankbaar dat ons almal kon hande vat in die laaste vyf jaar in die belang van hierdie jong mense.
Die groep het bestaan uit 67 leerlinge. Altesaam 64 van die leerlinge het geslaag, wat 'n slaagpersentasie van 95.5% is. Dit is vir die skool altyd ook belangrik dat leerlinge se uitslae hulle in staat stel om te kwalifiseer vir tersiêre studies.
'n Totaal van 49 leerders (73.1%) het met universiteitsvrystelling geslaag, terwyl 14 (20.9%) vir diplomastudies kwalifiseer. Alhoewel nie al hierdie leerlinge in 2025 verder studeer nie, skep dit die moontlikheid vir hulle in die toekoms.
Die drie toppresteerders hierdie jaar het almal vyf onderskeidings behaal en is almal seuns.
Verskeie ander leerders het tussen een en vier onderskeidings behaal.
Die vreugdevure het hoog gebrand toe leerlinge hulle uitslae op Dinsdag 14 Januarie by die skool ontvang het. Vir baie van hierdie leerders is hierdie uitslae die deur tot verdere studies om hulself oor 'n paar jaar in die beroepswêreld te vestig.
Die leerlinge wat goed presteer het, het almal min of meer dieselfde raad gehad vir die matrikulante van 2025. Dit is 'n absolute gegewe dat jy elke dag skool bywoon en dat jy elke dag genoeg tyd aan jou skoolwerk bestee.
Probeer om soveel moontlik vorige vraestelle deur te werk. Maar dit is ook belangrik dat jy 'n balans moet handhaaf. Jou fokus moet jou skoolwerk wees, maar dit is ook nodig dat jy vir jouself tyd gee vir ontspanning en buitemuurse aktiwiteite.
Moenie net studeer nie; maak ook op 'n verantwoordelike wyse die beste van jou laaste skooljaar.
Baie sterkte aan die gr.12- leerlinge in ons buurskole. Ons vertrou dat 2025 'n nog beter akademiese jaar vir elke matrikulant sal wees!
Ralu van Huyssteen
Noah Theron
Gabrielle Pfister
Sakeenah Abrahams
Mayan Gibbs
Lelethu Magontola
Tatiana Prins
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’