Inligting oor die algemene waardasie van eiendomme wat tans ingevolge die Munisipale Eiendomsbelastingwet, No 6 van 2004, gedoen word, word in die briewe vervat. Die nuwe waardasies sal met ingang 1 Julie 2012 vir munisipale belastingdoeleindes van krag word, en vervang alle vorige waardasies.
Die briewe verstrek onder meer ook inligting oor die prosedures wat gevolg moet word om meer inligting te verkry of om beswaar teen die nuwe waardasie van individuele eiendomme aan te teken.
Inligtingsvergaderings, almal om 19:00, oor die waardasies sal ook soos volg plaasvind:
- Dinsdag, 29 November 2011: Munisipale Kantore, Groot-Brakrivier.
- Woensdag, 30 November 2011: Boggomsbaai Gemeenskapsaal.
- Donderdag, 1 Desember 2011: Mosselbaai Stadsaal.
Hoekom word eiendomme gewaardeer?
Eiendomme word waardeer omdat eiendomsbelasting op die waarde van die eiendomme gebaseer word. Die waardes is almal vir dieselfde datum om ‘n billike en gelyke grondslag, waarop belasting gehef moet word, te verseker. Die waarde van eiendomme in verskillende gebiede styg teen verskillende tempo’s. Die waardasies word bygehou op ‘n Waardasierol ingevolge wetgewing.
Wanneer word my eiendom waardeer?
Alle eiendomme in Mosselbaai word tans herwaardeer vir die doel van die Algemene Waardasie wat op 1 Julie 2012 in werking sal tree. Daarna mag ‘n eiendom herwaardeer word in ‘n Aanvullende Waardasie, soos deur die betrokke Wetgewing voorgeskryf. Dit kan, byvoorbeeld, gebeur as daar verbeterings en aanbouings plaasgevind het.
Watter proses word met betrekking tot ‘n Algemene Waardasie gevolg, en kan eienaars beswaar maak teen die waardasie van hul eiendomme? Wat sal die tydsraamwerk wees?
Die wet vereis dat die waardasierol onderhewig moet wees aan publieke insae vir ‘n tydperk van 30 dae waartydens beswaar daarteen gemaak kan word. Kennisgewings in hierdie verband sal in November 2011 aan eienaars gestuur word, en ook gepubliseer word in die Staatskoerant en die pers. Die kennisgewings reflekteer die waarde van die eiendomme en hoe beswaar daarteen gemaak kan word. Vorms om beswaar aan te teken kan vir die duur van die beswaarperiode by die Munisipale Kantore asook op die munisipale webblad verkry word. Besware moet verband hou met ‘n spesifieke eiendom en nie teen die waardasierol as sulks nie.
Wat is my regte indien ek nie saamstem met die waardasie van ‘n eiendom nie?
Besware kan ingedien word tot 6 Januarie 2012. Besware wat laat ontvang word, moet vergesel wees van ‘n motiveringsbrief wat die redes uiteensit waarom die beswaar oorweeg moet word. Besware wat laat ingedien word, sal nie oorweeg word nie.
Kan ‘n beswaar tot gevolg hê dat die waardasie van ‘n eiendom verhoog?
Ja, die uitslag van ‘n beswaar kan die waardasie bevestig, verminder of verhoog.
Sal ek meer belasting moet betaal as die waardasie van my eiendom hoër is?
Nie noodwendig nie. In die afgelope paar jaar het hierdie Munisipaliteit belasting verhoog in lyn met, of minder as die inflasiekoers. In die algemeen, as die waarde van eiendomme aansienlik verhoog, sal die tariefkoers (sent per rand) afwaarts aangepas word om op te maak vir die algemene verhoging in waardes. Die netto effek van die Algemene Waardasie op eiendomsbelasting sal egter verskil van eiendom tot eiendom.
Hoe word besware hanteer?
Die meerderheid van die besware sal teen Februarie 2012 ondersoek word. Die uitslae sal in Februarie 2012 aan beswaarmakers gepos word. Redes vir uitslae kan aangevra word tot 22 Maart 2008. Beswaarmakers het ook ‘n reg tot appél wat ingedien moet word voor 22 April 2012. As ‘n waarde aangepas word met meer as 10% na aanleiding van ‘n beswaar, sal die aangeleentheid verwys word na die Munisipale Bestuurder vir voorlegging aan die Waardasie-appélraad. Hierdie Raad is deur die Wes-Kaapse Minister vir Plaaslike Regering ingestel. Die Raad se besluite is finaal, en buite die beheer van ‘n munisipaliteit. Hierdie Raad het ook die reg om mense aan te slaan vir nietige appélle of appélle wat te kwader trou ingedien is.
Hoe, en aan wie, kan ek my beswaar rig?
Eienaars het die reg tot appél teen waardasies. Voltooide beswaarvorms kan per e-pos gestuur word aan admin@mosselbay.gov.za, of kan gepos word aan Die Sekretaris van die Waardasieraad, Mosselbaai Munisipaliteit, Posbus 25, Mosselbaai, 6500, of kan afgelewer word by die ondergenoemde Munisipale Kantore gedurende die beswaartydperk. Alle besware moet ingedien word binne die voorgeskrewe tydperk op die voorgeskrewe beswaarvorm.
Die Waardasierol is ook beskikbaar vir insae by die volgende plekke:
- Munisipale Kantoor, Marshstraat, Mosselbaai.
- Munisipale Kantoor, Groot-Brakrivier.
- Munisipale Kantoor, Hartenbos.
- Waardasiekantore, Kamer 304, Montagu Place, Mosselbaai.