MOSSELBAAI NUUS - Inwoners kan verwag om in die komende maande waardeerders te sien wat deur die onderskeie buurte beweeg om die munisipale waardasierol op te dateer.
Die munisipaliteit het NDK Waardeerders vir dié doel aangestel en hul personeel sal gepas identifiseerbaar wees ter wille van veiligheid en sekuriteit.
Die doel van die nuwe waardasierol is om die wetlike voorskrifte van die Munisipale Eiendomsbelastingwet na te kom, dus nie om meer belasting te verhaal van Mosselbaaiers nie. Anders as 'n waardasierol, waar waardes vasgestel bly vir 'n tydperk van vyf jaar, word eiendomsbelastings jaarliks hersien.
Die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting is daargestel om alle munisipaliteite in Suid-Afrika te verplig om alle eiendomme binne hul jurisduksie te waardeer en te belas.
Die wetgewing streef na 'n eenvormige raamwerk vir die regulering, die waardering asok belastingsheffing op eiendomme en is van toepassing op alle munisipaliteite regdeur Suid-Afrika.
Die formaat van 'n waardasierol word volgens riglyne van die wetgewing opgestel. Die waardasierol bly vir vier tot vyf jaar van krag. In die geval van 'n metropool soos Kaapstad, geld dit vir 'n maksimum van vier jaar en in die geval plaaslike munisipaliteit soos Mosselbaai geld dit 'n maksimum van vyf jaar.
Dit verseker dat alle eiendomswaardes strook met die eiendomsmark en so ook die belastings wat gehef word. Mosselbaai-munisipaliteit se huidige waardasierol, geïmplementeer op 1 Julie 2017 verstryk die 30 Junie 2022.
Die nuwe waardasierol sal dus op 1 Julie 2022 geïmplementeer word.
Alle munisipaliteite in Suid-Afrika het 'n jaarlikse finansiële begroting. Eiendomsbelasting word bepaal deur die waardasie van die eiendom asook die tarief waarteen eiendomsbelasting gehef word.
Die tarief waarteen die belasting gehef word, word bepaal om met die begroting te laat klop. Sou die waardasies van die eiendomme verhoog, sal die tarief verlaag om te balanseer met die finansiële begroting van die munisipaliteit, en ook die teendeel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'