MOSSELBAAI NUUS - Die Vryheidsfront Plus (VF+) raadslid in die Mosselbaai munisipale raad, Chief Elroy Baron, het sy kommer oor onlangse verwikkelinge in die raad in 'n persverklaring gelug:
"Die VF+ spreek hul diepe teleurstelling uit in die Demokratiese Alliansie (DA)-beheerde Mosselbaaise raad wat op die raadsvergadering van 28 Junie nuwe verordeninge oor die verkoop van alkohol aan die publiek goedgekeur het.
"Die kommer fokus op drie aspekte, naamlik die verlenging van die verkoopsure wat nou tot 02:00 aangepas is; die las wat die veranderinge veral op buurtwaglede plaas wat misdaad in buurte probeer hokslaan; en die feit dat verlengde ure vir die wettige verkoop van alkoholiese drank juis drankmisbruik onder jongmense kan aanmoedig."
Munisipale rekeningekomitee
Die munisipaliteit het ook weggedoen met die oorsigkomitee deur dit te vervang met 'n Munisipale Openbare Rekeningekomitee oftewel Municipal Public Accounts Committee (MPAC).
Die VF+ is ontevrede met die verdeling van die raadslede op die nuwe MPAC. Die party het vir feitlik twee jaar geveg om van die onwettige oorsigkomitee sonder tande ontslae te raak sodat die wettige MPAC ingestel kon word. Die DA het, na druk vanaf die South African Local Government Association (SALGA) toegegee dat die Oorsigkomitee onwettig was en het uiteindelik MPAC tydens die vergadering aanvaar.
Die probleem is egter dat ál die opposisiepartye skielik nie meer deel kan uitmaak van dié belangrike komitee nie. MPAC is die enigste komitee waar opposisiepartye 'n oorsigrol oor die geldsake van die munisipaliteit kan uitoefen.
Die VF+ het geen probleem met die voorsitterskap wat die DA met die ANC onderhandel het nie, maar het wel 'n probleem met die wyse waarop die DA as beherende party die toedeling van komiteeposisies gedoen het.
Die MPAC bestaan uit sewe komiteelede waarvan die DA vier opgeneem het, van die oorblywende drie poste is twee - waaronder die voorsitterskap - aan die opposisie ANC gegee. Dit bring mee dat die DA van die ander opposisiepartye in die raad, naamlik die VF+, Icosa en die African Christian Democratic Party (ACDP) verwag om onderling te besluit wie die oorblywende een pos sal opneem.
Al die opposisiepartye was verteenwoordig op die vorige, onwettige oorsigkomitee, maar kan nou nie meer saam op die nuwe MPAC dien nie.
Die VF+ beroep hulle op Artikel 160.8(A) van die Grondwet wat sê dat alle partye en hul belange weerspieël moet word in die raad en regverdig en verteenwoordigend moet wees.
Die VF+ se Wes-Kaapse leier, dr Corné Mulder sê aldus Chief Baron dat hy die DA die geleentheid gee om hul fout reg te maak, en dat hy verwikkelinge in Mosselbaai aandagtig dophou.
'We bring you the latest Mossel Bay, Garden Route news'