MOSSELBAAI NUUS - Die Demokratiese Allianse (DA) in Mosselbaai verseker inwoners dat dienslewering steeds die hoofprioriteit bly hoewel die munisipaliteit nie 'n sewende opeenvolgende skoon oudit vir 2017/2018 ontvang het nie.
"Ons het met groot verwagtinge uitgesien na die ouditeur-generaal (OG) se verslag en deel die munisipaliteit se teleurstelling, veral nadat Mosselbaai in dié finansiële jaar saam met Swartland in die gesamentlike eerste posisie geplaas is as die finansieel mees volhoubare munisipaliteite in Suid-Afrika. Dié gradering is deur die onafhanklike navorsers Ratings Afrika gedoen. Ons is steeds trots op die wyse waarop die munisipaliteit die mense van Mosselbaai eerste plaas," berig Mosselbaai-kiesafdeling se politieke leier, Jaco Londt.
Finansieel gesond
Dit is belangrik om te merk dat hoewel die munisipaliteit nie 'n skoon oudit ontvang het nie, die finansiële stand van sake gesond en in orde is.
Die mening van die OG is ongekwalifiseerd met wesenlike bevindinge oor wetgewende aangeleenthede. Een van die bevindings was die laat-indiening van die finansiële jaarstate. Weens die nuwe Munisipale Standaard Klassifikasie van Rekeninge (mSCOA), het die grootboekrekeninge van Mosselbaai vanaf minder as 10 000 inskrywings na sowat 90 000 inskrywings vermeerder.
Die nuwe wetgewing is vanaf 1 Julie 2017 van krag. Londt sê dit het uitermate gevolge vir munisipaliteite meegebring en het tot gevolg gehad dat ander vooraanstaande munisipaliteite - insluitende Swartland-munisipaliteit - nie die keerdatum vir die indiening van state kon maak nie.
Die tweede bevinding verwys na die gebruik van produkte van Suid-Afrikaanse plaaslike inhoud.
Neem kennis
Dié bevindinge het verseker nie op dowe ore geval nie en die munisipaliteit sal in die toekoms harder werk om te verseker dat die mense van Mosselbaai trots kan wees op die wyse waarop die munisipaliteit besigheid doen.
Die DA Mosselbaai bly verbind tot eerlike, effektiewe, skoon regering en dienslewering aan alle gemeenskappe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'