Gallery
SUID-KAAP NUUS - Die DA se premierskandidaat vir die Wes-Kaap, Alan Winde, het die afgelope week verskeie dorpe in die Suid-Kaap en Klein-Karoo besoek.
Hy was tot onlangs die Wes-Kaapse LUR van ekonomiese ontwikkeling, maar is tans die LUR van gemeenskapsveiligheid.
Dit volg nadat die vorige LUR in dié pos, Dan Plato, as die burgemeester van Kaapstad aangestel is.
Helen Zille, die huidige premier, het minister Winde vergesel en die suksesse wat Winde in die Wes-Kaap behaal het, toegelig. Zille sê een van Winde se grootste suksesse is werkskepping in die provinsie. Meer as 50% van werksgeleenthede wat verlede jaar landwyd geskep is, is in die Wes-Kaap geskep.
Zille en Winde het Vrydagaand tydens 'n galadinee in die banketsaal van die burgersentrum in Oudtshoorn gesê dat die suksesse van die Wes-Kaap bewys dat goeie regering werk.
Winde het gesê in die voorgaande tien jaar van DA-regering in die Wes-Kaap is tydens die eerste vyf jaar gefokus op die bou van 'n gesonde fondament terwyl die fokus in die daaropvolgende vyf jaar op goeie dienslewering was.
"Die volgende vyf jaar gaan 'n termyn van innovasie wees. Ons moet leer om innoverend te dink en innoverend op te tree en geleenthede raak te sien."
Hy het daarop gewys dat Kaapstad onlangs in 'n peiling aangewys is as die beste stad in Afrika wat rekenaar- en inligtingstegnologie aanbetref.
Eregaste tydens die DA se galadinee Vrydagaand in Oudtshoorn. Van links is Donald Grant (provinsiale minister van vervoer en openbare werke), Tertius Simmers (kiesafdelingshoof van Oudtshoorn en DA streeksekretaris van die Oos-streek), prof Nomafrench Mbombo (provinsiale minister van gesondheid), Helen Zille (premier) Noluthando Mwati (onderburgemeester van Oudtshoorn), Alan Winde (premierskandidaat en provinsiale minister van veiligheid en sekuriteit) en Colan Sylvester (burgemeester van Oudtshoorn)
"Daar is soveel vertroue in die Kaap dat die JSE onlangs 'n kantoor in die Kaap geopen het." Winde skryf dit daaraan toe dat al meer beleggers na die Wes-Kaap kom omdat dit as 'n veilige en positiewe provinsie vir ontwikkeling ervaar word.
Maimane in Oudtshoorn
'n Groot DA-saamtrek het Saterdag op die Bridgton-sportgronde plaasgevind. Die hoofspreker was Mmusi Maimane, die DA se federale leier. Hy het kiesers aangespoor om hierdie naweek vir die komende verkiesing te registreer en te sorg dat die DA in beheer van die Wes-Kaap bly.
Tussen 3 000 en 4 000 ondersteuners het die saamtrek bygewoon.
Maimane het herhaaldelik daarop klem gelê dat 'n einde gebring moet word aan die verwysing na verskillende rasse in die land.
"Ons is almal Suid-Afrikaners en ons moet mekaar so behandel. Ons kom uit apartheid uit, maar ongelukkig is die land se huidige regering besig om ons in 'n ander apartheid in te neem."
Alan Winde en Helen Zille neem deel aan Saterdag se feestelikheid in afwagting van Mmusi Maimane se toespraak.
Hy het daarop gewys dat politici nie posisies moet beklee om hulself te verryk nie, maar om te sorg dat elke burger die beste dienslewering kry.
"Daar is té veel korrupsie, té veel omkopery en oneerlike bermagtiging en dit is die land se ondergang."
Maimane het ook daarna verwys dat die huidige stelsel waar polisielede en polisie-optrede volgens 'n nasionale beleid bepaal word, die Wes-Kaap benadeel.
"Die Wes-Kaap is die suksesvolste provinsie in die land, maar ons kry die minste polisielede. Dit moet verander."
Alan Winde het na afloop van die verrigtinge tydens 'n onderhoud met die pers gesê die DA gaan daadwerklik probeer om die grondwet te wysig sodat provinsies hulle eie polisiediens volgens hulle eie behoefte kan bestuur.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'