POLITIEK NUUS - Die DA het vandag aan die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe, geskryf om ’n hersiening van die huidige brandstofprysmodel voor te stel na nog 'n ronde brandstofprysverhogings.
Die petrolprys het Woensdag met 91 sent per liter gestyg tot ’n rekordhoogte van R18,20 per liter, terwyl die prys van diesel met tussen 54 en 55 sent per liter gestyg het.
LP Kevin Mileham, die DA se skaduminister van Minerale Hulpbronne en Energie, sê die brandstofstyging is rampspoedig vir Suid-Afrikaanse gesinne wat reeds sukkel met stygende werkloosheid en inkomstes wat afplat of daal.
"Die skerp styging het ’n wyer impak ook siende dat dit verbruikers se reiskostes verhoog, kospryse moontlik die hoogte in sal skiet en dit sal lei tot stygende operasionele kostes vir kleinbesighede."
Mileham sê daarom stel die DA voor dat die brandstofprysmodel hersien word om die druk op Suid-Afrikaners te verlig. "Die regering moet dringend met belanghebbendes in die sektor vergader om ’n nuwe brandstofprysmodel te ontwikkel wat die impak van brandstofpryse op die ekonomie - insluitend hoë belasting en verbruikers- en produsente -inflasie - in ag sal neem.
Hy sê volgens die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie word die basiese brandstofprys tans gebaseer op die beginsel van invoerpariteit, dit wil sê hoeveel dit ’n Suid-Afrikaanse invoerder sou kos om die produk by ’n internasionale raffinadery te koop, die vervoer van die produk van daardie raffinadery af, versekering van die produk teen verliese op see, en die koste om dit dan deur Suid-Afrikaanse grense te kry.
"Boonop is daar verskeie brandstofheffings wat jaarliks aangepas word om verskeie uitgawes van die regering te befonds, insluitende die disfunksionele padongelukkefonds.
"Baie Suid-Afrikaanse huishoudings ly steeds vanweë die ANC-regering se jare lange mislukking om ’n gunstige ekonomiese omgewing te skep, sowel as die rampspoedige ekonomiese gevolge van die regering se hantering van die Covid-19-pandemie. Hierdie brandstofprysverhoging plaas onnodige druk op verbruikers wat reeds gebuk gaan onder enorme finansiële druk," sê Mileham.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'