Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Premier van die Wes-Kaap, Alan Winde het tydens 'n informele geleentheid saam met Mosselbaai se sakelui, die dorp gelukgewens daarmee dat hulle die eerste munisipaliteit in die land is, wat hulle burgemeester vandeesweek sou kies.
"Nommer 1 in die land – alwéér," het Winde in ligte luim tydens 'n gesprek met sakelui in Voorbaai gesê.
Dirk Kotzè, DA-voorsitter van Mosselbaai wat later die dag op Woensdag, 10 November as uitvoerende burgemeester vir die volgende termyn verkies en ingehuldig is, was ook teenwoordig.
"Dit is lekker om in 'n 'blou' munisipaliteit te wees en ons wil vir die kiesers bedank dat hulle besluit het om Mosselbaai so te hou," het Winde gesê.
Winde het na die huidige periode waarin Suid-Afrika homself bevind, as 'n "interessante tyd" verwys waaroor vir baie jare, sedert die begin van die demokratiese bedeling begin het, bespiegel is.
"Die ANC, wat nie voorheen 'n politieke party was nie moes skielik 'n land regeer. En nou vir die eerste keer in 27 jaar het hulle onder 50% van die stempresentasie landwyd gekry. Die volgende twee jaar is baie belangrik vir Suid-Afrika, veral vir provinsies met 'blou' munisipaliteite."
VIDEO: ‘Blou munisipaliteite sal toon aangee’ sê Premier
Winde het verwys na die uitdagings wat deur koalisie-munisipaliteite teenoor "blou", met ander woorde DA-beheerde munisipaliteite ervaar word wat besluitnemeing, binnegevegte en stabiliteit betref. Winde het gesê dat dit van kardinale belang is om aan die land te bewys hoe die Wes-Kaapse provinsiale regering en DA-beheerde munisipaliteite koppe bymekaar gaan sit om uitdagings die hoof te bied.
Groei
Winde het genoem dat daar sedert 2020, 108 000 nuwe inwoners in die Wes-Kaap hervestig het. Dié syfer vir die afgelope vyf jaar, is 650 000.
"Ons het die aanvraag, maar geld raak minder en die provinsiale en plaaslike regering sit in die middel. Ons gaan dinge anders móét begin doen."
Winde het verwys na die Suid-Afrikaanse grondwet wat vernuwing benodig om by 'n veranderde samelewing aan te pas en ook onder meer bestaande infrastruktuur wat dringend aandag benodig.
Met verwysing na die Covid-19-pandemie, is Winde dit eens dat noodsaaklike lesse daaruit geleer moet word.
"Die pandemie word vergelyk met 'n wêreldoorlog. Na die Eerste Wêreldoorlog, is noodsaaklike lesse nie geleer nie. Toe gebeur die Tweede Wêreldoorlog as 'n resultaat daarvan. Suid-Afrika was reeds voor die pandemie in die moeilikheid, maar ons gaan moet besluit of Covid-19 ons Eerste of Tweede Wêreldoorlog gaan wees."
Winde het met trots verwys na innovasie wat ingetree het danksy die pandemie, veral in die verskaffing van basiese gesondheidsorg.
"Ons weet almal dat oumense en armes voorheen by klinieke in rye moes staan vir medikasie. Danksy 'n sisteem wat ons gedurende die pandemie kon opstel deur middel van verskeie vennootskappe, neem ons nou 2 miljoen pakkies medisyne na mense se huise."
Winde is van mening dat data 'n al groterwordende kommoditeit is wat munisipaliteit ten voordele behoort te kan inspan.
Wat uitdagings in die onderwys betref, waar 24 400 leerders tans wag op plasing in die Wes-Kaap, het Winde gesê, ongeag die uitdaging is daar bewese innovasies in die Wes-Kaap in plek wat die koers vorentoe aandui.
"Ons wil vir Mosselbaai sê, die provinsiale regering is saam met julle om nog groot dinge te doen."
Premier Alan Winde
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'