NASIONALE NUUS - Agri Wes-Kaap ondersteun die sleutelinisiatiewe wat die Wes-Kaap se Minister van Landbou, dr Ivan Meyer, in sy begrotingsrede bekend gemaak het.
Mnr Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die organisasie is tevrede met die rigting waarin die Minister die Departement van Landbou in die nuwe finansiële jaar wil stuur en waardeer die fokus op droogteverwante ingrypings en projekte wat die provinsie se waterkrisis en damkapasiteit wil aanspreek.
Hy sê Agri Wes-Kaap sien daarna uit om met dr Meyer en ander rolspelers in gesprek te tree om die begroting en projekte in groter detail te bespreek.
Mnr Strydom sê Agri Wes-Kaap is ook opgewonde oor Minister Meyer se visie met betrekking tot verbeterde marktoegang en uitvoergeleenthede in Afrika en die ondersteuning aan opkomende produsente. “Dit sal nóg meer geleenthede vir die Wes-Kaap skep wat reeds ‘n groot uitvoerder van landbouprodukte is,” sê hy.
“Ons verwelkom ook die bedrag wat in die begroting vir landbou-onderrig en opleiding beskikbaar gemaak is, omdat dit tot volhoubare kundigheid in die landbousektor gaan bydra,” het mnr Strydom gesê. Hy het sy hoop uitgespreek dat dié bedrag in die toekoms nog meer sal wees sodat daar behoorlik in die jeug belê kan word wat die landbousektor wil betree.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'