NASIONALE NUUS - Agri Wes-Kaap het met skok en hartseer kennis geneem van die moord op die Stellenboschse wynprodusent Stefan Smit op Sondag 2 Junie.
Smit is die tweede slagoffer van 'n plaasmoord in minder as 'n maand in die Wes-Kaap, nadat mnr Tool Wessels van Bonnievale in Mei vermoor is.
Smit was sedert November verlede jaar in regsprosesse gewikkel om onwettige betreders van sy grond af te kry.
Agri Wes-Kaap versoek President Cyril Ramaphosa om sy uitsprake op Dinsdag 9 Julie by Beyerskloof in Stellenbosch te verduidelik toe hy gesê het wit landbouers het ‘n toekoms in die land en dat hy wil keer dat hulle die land verlaat.
Smit, sy vrou en ‘n familievriend was in die plaashuis ten tye van die aanval. Volgens die polisie het vier mans die huis binnegekom en Smit is geskiet. Sy vrou en die vriend is ongedeerd. Verskeie besittings is gesteel en die aanvallers is nog op vrye voet.
Die uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, Jannie Strydom, sê hy wil by Ramaphosa weet hoe ‘n organisasie soos Agri Wes-Kaap produsente moet aanmoedig om in ‘n land te bly waar hulle en hulle plaaswerkers se lewe elke dag bedreig word.
Hy sê die landboubedryf kan dit nie langer bekostig dat die regering en ministers en instellings wat met veiligheid belas is, nie die veiligheid van landbouers en plaaswerkers ernstig opneem nie.
Agri Wes-Kaap betuig ons innige meegevoel met Smit se naasbestaandes en vriende.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'