NASIONALE NUUS - Rico Basson, besturende direkteur van die wynbedryfliggaam, Vinpro het gister in 'n verklaring gesê die Suid-Afrikaanse wynbedryf, wyntoerisme ingesluit, is in ‘n "ramptoestand" en dringende ingryping is nodig, anders sal een van die oudste landboubedrywe in die land nie oorleef nie.
“Baie wynondernemings het reeds gesluit weens die vorige en huidige handelsbeperkings, en die res van die bedryf sal eenvoudig nie ‘n voortgesette alkoholverbod oorleef nie. Derduisende werknemers sal sonder ? inkomste, ander uitweg of hoop gelaat word,” het hy gesê.
Volgens Basson het die wynbedryf al die nodige gesondheids- en veiligheidsregulasies in plek gestel vir die veilige heropening van binnelandse handel en verspreiding.
Hulle fokus ook daarop om gedrag rondom verantwoordelike produksie, promosie, handel en verbruik te verander. “Ons ondersteun dus die Wes-Kaapse regering se beroep op die veilige heropening van alle ondernemings en plaaslike alkoholverkope, tesame met doelgerigte ingrypings.”
Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het in ? onlangse verklaring gesê solank die provinsie toegang tot gesondheidsfasiliteite vir alle Covid-19-pasiënte kan verseker, moet die tydelike verbod op die verkoop van alkohol onmiddellik opgehef word, tesame met die implementering van weldeurdagte ingrypings om die negatiewe gevolge van alkoholmisbruik op die medium- tot langtermyn te bekamp.
Basson sê Vinpro het gereeld met die regering beraadslaag sedert die landswye inperking in Maart 2020 aangekondig is. “Sedert die ramptoestand in die land aangekondig is en die algehele inperking ingestel is, het ons met die regering onderhandel om die wynbedryf in staat te stel om die 2020-oes te voltooi, en daarna om uitvoere en binnelandse verkope oop te stel. Ons het die erns van die situasie in die land toe en nou verstaan en ons ondersteun steeds die regering se pogings om lewens te red deur die wynbedryf met die nodige inligting en veiligheidsprotokolle te bemagtig om alle regulasies na te kom.”
Oorskotwyn in kelders laat moontlik nie plek vir nuwe oes
Daar moet egter ? fyn balans wees tussen die red van lewens en die beskerming van mense se lewensbestaan. Wyn is ? seisoenale landbouproduk wat beteken wingerde wag nie vir die opheffing van handelsbeperkings voordat hulle druiwe produseer nie. “Ons produsente is reeds besig om voor te berei vir die 2021-oes, maar met bykans 300 miljoen liter oorskotwyn wat nog in keldertenke is, het ons moontlik nie plek vir die nuwe oes nie. Dis ? desperate situasie,” sê Basson.
Alhoewel baie regsaksie beskou as die doeltreffendste manier om handel te heropen, meen Vinpro dat beleidsvorming in die kort-, medium- en langtermyn meer effektief beïnvloed word deur dringende en produktiewe gesprekke direk met die regering, bedryf, arbeid en burgerlike samelewing deur die Nedlac-forum.
Volgens Basson het die bedryf die empiriese data waarvolgens die besluit oor die verkoopverbod geneem is, versoek en ontleed, en ‘n stel voorwaardes aanbeveel wat sou dien as voorvereistes om die verbod op te hef, insluitende verbintenisse met betrekking tot projekte om die skadelike effek van alkoholmisbruik aan te spreek, ondersteuning van die gesondheidstelsel, moontlike beperkings op verkoopsvolumes en beperkte bemarkings- en promosie-aksies vir ‘n bepaalde periode. Hulle is ook bereid tot die oprigting van ‘n gesamentlike forum om toesig te hou oor die implementering en monitering van die regulatoriese omgewing in die kort-, medium- en langtermyn.
“? Sosiale ooreenkoms is ? verbintenis tussen onderskeie partye, nie ‘n eensydige verdrag nie. Alle partye moet bereid wees om te gee en neem, maar ons is tans gefrustreerd met die gebrek aan onderneming van die regering om hulself tot die volgende stappe te verbind,” sê Basson.
Produsente, kelders gaan moet sluit
"Die besluit of plaaslike drankverkope heropen sal word wanneer die huidige gevorderde inperkingsvlak 3 vanaf 15 Augustus geherevalueer word, sal die wynbedryf maak of breek. Die aanvanklike nege weke lange verbod op plaaslike verkope, en die verbod op uitvoer wat vyf weke geduur het, sal meebring dat meer as 80 wynkelders en 350 wyndruifprodusente hul deure oor die volgende 18 maande gaan sluit, met ‘n moontlike verlies van meer as 21 000 poste in die waardeketting, wat aansienlik mag toeneem na die tweede verbod."
'Keelvol'
Vinpro-voorsitter Anton Smuts het gesê die wynbedryf bestaan hoofsaaklik uit kleiner ondernemings – 40% van alle boere produseer minder as 100 ton en ‘n verdere 36% minder as 500 ton per jaar – waarvan die meerderheid nie voldoende oorbruggingsfinansiering het om hulle deur die finansiële droogte te dra nie.
“As een van die oudste landboubedrywe in Suid-Afrika word ons druiwe deur 2 873 boere en hul 40 000 werknemers verbou en ons wyne word vervaardig deur bekwame wynmakers en hul assistente in 533 kelders, met nog baie meer insetverskaffers en diensverskaffers in die waardeketting wat afhanklik is daarvan dat die plaaslike mark heropen,” sê Smuts.
“Vir elke werk op ‘n plaas word nog tien werksgeleenthede in die res van die waardeketting geskep. Ons is keelvol vir hierdie situasie. Die verbod het sy doel gedien en moet onmiddellik opgehef word.”
Basson sê die bedryf verstaan dat die huidige situasie buitengewoon ingewikkeld bly, maar gegewe die afname in die infeksiesyfer in die Wes-Kaap en ander provinsies, ‘n groter kapasiteit by hospitale en ooreengekome voorstelle, is daar absoluut geen rede om die huidige verbod op wynverkope verder te verleng nie.
“Genoeg is genoeg. As jy rasioneel daaroor dink, maak dit nie meer sin nie. Ons het ons bes gedoen om lewens te red, maar die tyd het nou aangebreek om ook die lewensbestaan van landsburgers wat in die Suid-Afrikaanse wynbedryf werk en daarvan afhanklik is te red,” sê Basson.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'