NASIONALE NUUS - Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NATJOINTS) bevestig dat die voorbereidings vir die repatriasie van Suid-Afrikaanse burgers uit die stad Wuhan in die Hubei-provinsie goed verloop.
Logistieke planne is in ’n gevorderde stadium en die repatriasieproses sal onderneem word sodra al die nodige reëlings bevredigend getref is.
Tot dusver het ’n aantal Suid-Afrikaners aangedui dat hulle na Suid-Afrika gerepatrieer wil word.
Daar is ook landsburgers wat gekies het om in die stad Wuhan aan te bly. Die mense wat gerepatrieer gaan word, sluit studente en onderwysers wat in China onderwys gee, asook ander beroepslui wat in die land werk in.
Tot op hede is geen spesifieke terrein geïdentifiseer waar die kwarantynproses sal plaasvind nie.
Onderhandelings met ’n aantal diensverskaffers duur voort. NATJOINTS ontmoedig enige spekulasie deur mediahuise oor moontlike kwarantynterreine, aangesien sulke berigte bloot onderhandelingspogings kompliseer.
NATJOINTS het ook met kommer kennis geneem van berigte van intimidasie van sommige potensiële diensverskaffers wat moontlik gebruik kan word om die gerepatrieerde mense te akkommodeer. Hierdie intimidasie bemoeilik die regering se taak om voorbereidings spoedig af te handel aansienlik.
Die vliegtuig met die nodige kapasiteit om die Suid-Afrikaners vanaf Wuhan terug te bring, is reeds bekom.
’n Interdissiplinêre span van tersaaklike departemente, insluitende gesondheid, binnelandse sake, maatskaplike ontwikkeling en verdediging, sal deel vorm van die repatriasiespan vanuit China na Suid-Afrika.
Die interdissiplinêre span sal met die Chinese owerhede saamwerk om die groep Suid-Afrikaners te skandeer voordat hulle uit die episentrum van Wuhan vertrek.
Met die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse ambassade in China, word ’n padvervoerplan ontwikkel om te verseker dat al ons landsburgers wat ontruim word veilig na ’n sentrale versamelpunt gebring word, waarvandaan hulle dan terug huis toe gebring sal word.
NATJOINTS ontmoedig die verspreiding van vals nuus oor Covid-19 ten sterkste omdat dit onnodige spanning vir die families wat geraak word, veroorsaak.
Port Health het ook sy pogings om alle reisigers by alle toegangshawens te skandeer, verdubbel.
Reisigers wat die land besoek, word aan gesondheidskanderings onderwerp voor hulle die vliegtuig verlaat of toegelaat word om die land binne te kom.
Die departement van gesondheid monitor steeds die situasie noukeurig en het planne gereed om enige moontlike bespeuring van die virus te hanteer.
Die twee Suid-Afrikaners wat op die passasierskip Diamond Princess werk en aanvanklik positief vir Covid-19 getoets het, het nou negatief getoets en sal binnekort terugkeer huis toe.
Die regering neem met waardering kennis van pogings deur lede van die media om te maan teen die gevare van stigmatisering, mites en vals nuus wat op sosiale media die rondte doen.
Lede van die publiek wat inligting oor die koronavirus wil verkry, moet die blitslynnommer 0800 029 999 skakel, of bona fide en wettige bronne soos die nasionale departemente van gesondheid, verdediging en binnelandse sake kontak.
Familielede wat meer inligting benodig oor hul geliefdes wat gerepatrieer gaan word, kan met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (DIRCO) by die volgende kontakbesonderhede in aanraking kom: e-posadres ciccn@dirco.gov.za; telefonies 012 351 1754.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'