GEORGE NUUS - Twee boorlinge van George, Jan Hoogendyk, beter bekend as Elvis Blue, en Claudia Witbooi, beter bekend as Yoma, het Sondagaand, 29 April elk met die louere by dié jaar se Ghoema-toekennings weggestap.
Die room van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is tydens 'n spoggeleentheid in Theatre on Marcellus in Emperor's Palace aan die Oos-Rand vereer.
Rymkletsers Hemelbesem en sy vrou, Yoma, wat tans in Johannesburg bly, asook plaaslike kunstenaar Hakkiesdraad Hartman, is genomineer in die kategorie vir beste Afrikaanse hip-hop-liedjie van die jaar. Yoma het dié toekenning opgeraap met haar treffer Wille Kat.
"Ek was verskriklik dankbaar om daar [by die Ghoema-toekennings] te kon wees. Dit is vir my 'n groot mylpaal en ek het nooit gedink ek sou eers genomineer word vir 'n Ghoema nie.
"Vir my as vrou was dit belangrik om die toekenning te kon kry om daardeur ander vroue te inspireer. Ons almal het 'n doel en dit maak jou waardevol. Gaan groot. Gaan vir goud. Geen droom is té groot nie," sê Yoma.
Drie van Elvis Blue se liedjies, Die Brug, Werner en Elke Hart is benoem in die kategorie vir beste komposisie. Die Brug, het hom dié toekenning besorg.
'n Baie gelukkige Yoma met haar Ghoema-toekenning.
Lees meer op ons susterskoerant, George Herald.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'