Gerdo (Arch) Karelse is vir beweerde aanranding in 'n sel saam met 'n 29-jarige man, wat vir gesinsgeweld aangekeer is, toegesluit.
Na bewering is hy ook deur die man gemartel. Die sel en die tralies waarin Gerdo aangehou is, was vol bloed. Sy tande is uitgeslaan en 'n deel van sy gesig is na bewering vergruis. Zuko Mqungquthu het Dinsdag op aanklag van moord in die hof verskyn. Hy sal weer op 5 Julie in die hof vir 'n formele borgtogaansoek verskyn.
Sannie Wyls, Gerdo se ma, sê die beweerde voorval waarvan Gerdo van aanranding beskuldig is, was nonsens.
"'n Man wou hom en sy suster Saterdagaand met sy kar omry. Toe Gerdo praat het die man uitgespring en hom kom aanrand.
Beide sy oë was blou geslaan. In die stoeiery is die kar se ruit per ongeluk gebreek. Die man het egter 'n ander storie aan die polisie gaan vertel. Die Sondagmiddag het die speurder hom by die huis kom haal. Sy ouer broer was saam polisiestasie toe, want Gerdo sou net 'n waarskuwing teken om Maandag in die hof verskyn," het sy gesê.