NASIONALE NUUS - Terwyl sakeondernemings sedert die instelling van die inperkingsmaatreëls hewige finansiële verliese gelei het, het spazawinkels se winste skynbaar as gevolg van skerp prysverhogings in sekere noodsaaklike produkte, die hoogte in geskiet.
Volgens die eienaar van 'n spazawinkel, wat verkies om anoniem te bly, is dit 'n algemene verskynsel in die sakewêreld wanneer die aanvraag in sekere produkte groter raak.
"Gedurende lockdown is mense se eerste prioriteit om byvoorbeeld mieliemeel en broodmeel te koop - natuurlik om hul gesinne te voed en dit is ook die items waarvan pryse met 'n paar rand gestyg het. Die vasstelling van my produkte se pryse wissel gedurig omdat ek ook maar moet inval by die verhoogde pryse wat my verskaffer my vra. Luukse items soos sjokolade, beskuit, koeldrank en tjips het ook daagliks van ons rakke afgevlieg omdat meeste winkels toe was en daar nie veel ander opsies was om hul geld te spandeer nie.
"Die feit dat skoolkinders ook met vakansie by die huis was, het ook 'n rol gespeel."
Die verbod op alkohol onder vlak 5 en 4 van die inperkingsmaatreëls het ook hoë pryse van pynappels teweeggebring wat een van die hoofbestanddele van tuisgemaakte bier is. Die gewone prys per pynappel was R10, maar het intussen tot R27 gestyg.
'n Omgekrapte inwoner het aan die Oudtshoorn Courant gesê dit gaan haar verstand te bowe dat die spazawinkels nie die inwoners tegemoet wil kom in hierdie droewige tydperk nie.
"Ek bedoel ons ondersteun hulle jaar in en jaar uit en vir hulle om ons so genadeloos uit te buit, sit net nie lekker met my nie."
Maar, terwyl inwoners kla oor die hoë pryse blyk dit dat van dié winkels ook tydens die inperking 'uitkoms' vir sommige bied.
"Vier dae gelede moes ek R50 opdok vir 'n pakkie Ceasar-sigarette waarvoor ek gewoonlik R22 betaal! Ek kon twee brode met die ekstra R30 gekoop het," het sy gesê.
Daar kon nie bevestig word dat sommige spazawinkels onwettig sigarette verkoop nie en volgens inwoners word daar ook gereeld onwettig drank en sigarette uit motors se kattebakke verkoop.
Nog 'n inwoner het haar misnoeë te kenne gegee en gevra: "Waar is die gees van Ubuntu dan? Is ons almal dan nie saam in hierdie ding nie? Afgesien van enkele eienaars van spazawinkels, het bitter min nog teruggeploeg in die gemeenskap. Ek bedoel, hulle weet mos dat die lockdown meeste broodwinners van 'n inkomste weerhou het."
'Ons bring jou die nuuste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'