MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai spog eersdaags met die langste glykabel oor die see ter wêreld.
Hierdie 1 100m glykabel sal adrenalienverslaafdes teen ongeveer 80km/h na hulle asems laat snak.
Avontuursoekers kan hierdie glykabel ervaar wat vanaf die kranse by die Van Riebeeck-stadion tot langs die Shark Lab-akwarium onder by die Poort strek.
Die glykabel strek oor die see en langs die kranse verby, onderkant die St Blaize-ligtoring.
Die hoofkabel is reeds van bo tot onder deurgetrek en finale afronding word tans gedoen, asook toetslopies en inspeksies. Die ankertoue moet nog losgemaak word, maar sal eersdaags oop wees vir die publiek.
Die konstruksie van die glykabel is verlede jaar deur die Mosselbaai-munisipaliteit goedgekeur en die werk het daarna begin.
Met 'n paar onderbrekings en die weer wat nie altyd saamspeel nie, is daar nog nie 'n definitiewe datum wanneer die glykabel gaan open nie.
Geen swanger vroue en kinders onder ses jaar mag die glykabel gebruik nie en daar is 'n gewigsbeperking van 120kg.
Die 1 100m vat jou oor die see en langs die kranse verby met 'n mooi uitsig oor die Punt van Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'