MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die Mosselbaai Gholflandgoed Huiseienaarsvereniging (HEV) se jaarlikse liefdadigheidsgholfdag op Sondag, 2 Desember was besonder interessant, prettig én lonend.
Nes in die vorige vier jare was talle aanloklike pryse op die spel. Elkeen van die 116 spelers het 'n prys losgeslaan en 'n heerlike driegang-maaltyd geniet. Geen wonder nie, dat dit ook spelers van elders gelok het. 'n Rekord-skenking aan die begunstigde, Hartenbos Bejaardesorgdiens (HBsd), word voorsien.
Volgens Martin Smith die voorsitter van die HEV se raad van direkteure en organiseerder van die gholfdag, is daar besluit om die dag, nes verlede jaar, ten bate van die HBsd aan te bied. Dis ten volle en groothartig deur die talle borge, 93 firmas, ondersteun. Pryse ter waarde van R74 618 is ontvang, asook kontantskenkings van R89 600. Hierbenewens is spesiale pryse ter waarde van R38 340 opgeveil vir altesaam R27 600. Dit het bloedsweet van die pittige afslaer, Graeme Viljoen, gekos.
Die HBsd ontvang 'n baie klein persentasie hulp van die staat. Derhalwe is hulle afhanklik van skenkings en projekte vir fondse. Die HBsd beskik nie net oor 'n aftreeoord vir bejaardes nie, maar bedryf ook 'n sentrum wat dienste aan sowat 200 bejaardes bied. Dit sluit selfs 'n tuinversorgingsdiens in 13 van ons woongebiede in.
Boonop word 'n kleuterskool met 60 kinders in Sonskynvallei bedryf. Hier ontvang kinders daagliks ontbyt en middagete.
Die formaat vir vanjaar se stablefordkompetisie was 'n beterbal met 'n voorkeurdryf vanaf 'n spesiale voorgee. Vir laasgenoemde is die twee spanmaats se gesamentlike voorgeë bymekaargetel en deur drie gedeel. Albei spelers het dan van hierdie gesamentlike voorgee gespeel, mits die een se werklike voorgee nie laer was nie. In daardie geval moes die betrokke speler van sy eie laer voorgee speel. Volgens terugvoering het dié resep die spelers laat kopkrap, maar hulle het dit so prettig en regverdig gevind dat dit in die toekoms weer beproef sal word.
Uitslae
Die uitslae was soos volg: 1. Gert Pieterse en Waldo Vorster (47); 2. Alwo en Wouter Dercksen (44); 3. Jordan Duminy en Hendrik Kriek (44); Les en Susan Wright (44); 5. Pieter Smith en Alfred du Plessis (43).
Naaste aan die tou: Ena Stipp, langste dryf (mans): Pieter Smit; langste dryf (vroue) Hanlie Borchardt; naaste aan die vlag: Waldo Vorster (4de); Gloria Greyvenstein (8ste); Susan Wright (12de) en Arthur Percival (15de).
Verlede jaar het dié dag R75 300 opgelewer. Volgens Martin behoort dit vanjaar meer as R114 000 te wees. Die finale syfer sal op 28 Desember tydens die HEV se jaarvergadering bekend gemaak word. 'n Oorbetaling aan die HBsd sal so gou moontlik gemaak word.
Martin, wat werklik 'n kloppie op die skouer vir sy deeglike beplanning verdien, wil dan hiermee ook alle borge (waarvan die name op die brieweblad in volgende week se uitgawe sal verskyn) en ook die spelers bedank vir hulle deelname. Volgens hom vertrou hy dat almal reeds Sondag, 1 Desember 2019 aangeteken het vir die HEV se volgende liefdadigheidsgholfdag.
Tweede plek: Wouter en Alwo Dercksen, Martin Smith (voorsitter van huiseienaarsvereniging). Wenners: Gert Pieterse en Waldo Vorster.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'