NASIONALE NUUS - Gewoonlik word 1 April met Gekkedag-grappe vereenselwig. Die teendeel, die feit dat dit ook die dag is waarop talle belastings- en tariefverhogings van krag word, is egter ook waar.
Om middernag op Woensdag, 3 April het een van die felste prysverhogings tot nog toe motoriste getref.
April is volgens die departement van energie 'n belangrike maand in die brandstofpryskalender wanneer die hersiene tariewe vir brandstof- en padongelukkefonds (RAF) se heffings geïmplementeer word in die prysstrukture van petrol, diesel en paraffien. Daar is 'n verhoging van 15c vir die brandstofheffing en 5c vir die Padongelukfondsheffing.
In die Wes-Kaap, het 93 oktaan petrol sedert Januarie met R2.17 per liter verhoog en kos nou R 15.96 per liter. Ongelode 93 oktaan styg maand op maand met R1.29 per liter in die kusstreke. Diesel het met minstens 82c per liter toegeneem.
Dit is egter nie die einde van belastingstygings op brandstof vir 2019 nie. In Februarie het die minister van finansies, Tito Mboweni, aangekondig dat koolstofbelasting op brandstof van 9c per liter op petrol en 10c op diesel vanaf 5 Junie van krag sal wees.
Elektrisiteit
Die energiereguleerder Nersa het aan die begin van Maart 'n prysstyging vir Eskom toegestaan wat die elektrisiteitvoorsiener in staat sal stel om sy pryse met 25% oor die volgende drie jaar te verhoog. Nersa het 'n gemiddelde prysverhoging van 13,87% goedgekeur wat op 1 April vir Eskom se direkte kliënte van krag word. 'n Gemiddelde prysverhoging van 15,63% word op 1 Julie vir munisipaliteite geïmplementeer. Dit 13.87% aanpassing vervat die styging van 9,41% wat vir April goedgekeur is asook die 4,4% tariefverhoging wat Nersa in Oktober 2018 reeds goedgekeur het om onvoorsiene koste van 2014 te verhaal.
Mybroadbanc.co.za berig dat elektrisiteittariewe van 2007 tot 2017 met 333% toegeneem het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'