MOTORING NUUS - Toyota Gazoo Racing SA sal twee motors in die Dakar-Uitdaagreeks vir die 2017-Chinese tydren as deel van sy voorbereiding vir Dakar 2018 inskryf.
Hierdie moordende ren word oor twaalf dae in Binne-Mongolië beslis. Dit word deur die Amaury-sportvereniging (ASO), wat ook die Dakar-veldtydren aanbied, gereël.
"Ons het reeds twee van ons Toyota Hilux-voertuie vir dié ren na China verskeep," sê die Toyota Gazoo Racing SA se spanhoof, Glyn Hall. "Die res van die span volg later vandeesmaand na 'n uiters strawwe ren."
Die ervare Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, sal in beheer van die eerste Toyota Hilux wees. Die Argentynse jaer Lucio Alvarez met Cacha Rodríguez as navigator, is in die tweede Toyota Hilux ingeskryf.
De Villiers is op die oomblik die voorloper in die Suid-Afrikaanse Veldtydrenkampioenskapsreeks (SACCS).
Alvarez is 'n bekende in Toyota-geledere nadat hy in 2012 in 'n Suid-Afrikaans geboude Hilux gejaag het. Dié renjaer van Mendoza is gewis vinnig genoeg en die strawwe toestande in Mongolië sal sy aanvallende styl pas.
"Die belangrikste vir ons is om meer kilometers in die kajuit deur te bring," sê Hall. "Die ontwikkeling van ons jongste Toyota Hilux vorder baie goed. Ons moet aanhou om 'n magdom aspekte te toets en ontwikkel. Dit sal alles 'n bydrae lewer tot die motor wat einde vanjaar Suid-Amerika toe gaan."
Die Chinese tydren is deel van die Dakar-Uitdaagreeks. Vanjaar se ren strek van die dorp Wuhai in Mongolië deur die Tenger-woestyn. Dit eindig ná sewe strawwe dae in die suide van Alxa.
ARTIKEL: ANICA KRÜGER, MOTORING REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'