MOTORNUUS - Komende Saterdag, 5 Maart, vind die tweede ronde van die SWD-ovaalbaankampioenskappe by die Oudtshoorn-motorklub se baan plaas.
Teen Maandag was sowat 50 motors reeds in die agt klasse ingeskryf en toeskouers en deelnemers kan hope aksie in al die klasse verwag.
Nog inskrywings sal in die week volg en die volstruisdorp moet haar vere regskud vir 'n opwindende dag.
Die hekke maak 12:00 oop en die wedrenne begin om 17:00. Die toegangsfooi vir volwassenes is R60 en kinders onder 12 betaal R20.
Van die SWD se topmanne en -vroue het ingeskryf en daar is ook topjaers van die Kaap wat deelneem.
Nicky Koegelenberg van Kaapstad in sy vinnige Ford Fiesta en sy seun Raniël, ook in 'n Ford Fiesta, neem beide in die 2.1-klas deel.
Raniël Koegelenberg kom van Kaapstad om met sy Ford Fiesta in die 2.1-klas te jaag.
Nog 'n besoeker is Nadia Rautenbach van Port Elizabeth wat gaan jaag met haar haastige Ford Fiesta wat sy by Burger van der Westhuizen van Oudtshoorn vir 'n aardige bedraggie gekoop het. Rautenbach neem deel in die junior hitsmotorklas.
Tjaard Slater, die voorsitter van die Schoemanspark-ovaalbaanklub in Bloemfontein, neem deel in die hitsmotorklas in 'n Opel Corsa.
Saterdag se kampioenskap bied 'n keur van jaers van oor die land, so laai die gesin in die motor en gaan geniet ovaalbaanwedrenne uit die boonste rakke. Sien jou daar!
Tanya Scott van Oudtshoorn en haar pragtige Nissan-bakkie neem deel in die Stockrod-klas.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'