MOTOR NUUS - Die 2018 Suzuki Swift is klein maar superfyn - dit het reeds die titel van Motor van die Jaar in Japan en Skotse kompakte Voertuig van die Jaar behaal en was onlangs 'n finalis as stadsmotor in wêreldmotor van die jaar. Die nuwe model is reeds by Suzuki-handelaars regdeur Suid-Afrika beskikbaar.
"Die nuwe Swift moet groot skoene volstaan," sê André Venter, afdelingshoof vir verkope en bemarking by Suzuki Auto Suid-Afrika. "Dit vervang die vorige twee generasies van 'n model waarvan daar reeds 19 000 eenhede in Suid-Afrika verkoop is. Om die waarheid te sê, sy voorganger was só gewild dat hy sy grootste verkoopsrekord van 2 966 eenhede in 2017 gehaal het.
Met die bekendstelling in KwaZulu-Natal, het ons 'n vinnige kennismaking met die nuwe Swift asook die Dzire-model gehad. Dzire sal in die toekoms as 'n selfstandige handelsnaam deur Suzuki bemark word.
Suzuki het die eerste generasie-Swift in 2005 wêreldwyd bekendgestel. Dit was ook dié model wat tot Suzuki se toetrede tot die Suid-Afrikaanse mark in 2008 gelei het. Hierdie eerste model is in 2011 vervang. Suzuki het sedert 2005 reeds meer as 6 miljoen eenhede wêreldwyd verkoop.
VOORKOMS
In die nuwe model word die agterste pilaar volgens die moderne styl verdonker en dit behou sy voorgangers se sterk skouerlyn, wat nou verfyn is na 'n meer dinamiese en vloeiende voorkoms.
Van die kant gesien, strek die nuwe model se skouerlyn nou van die voorste deurhandvatsels na agter en voor. Dit beklemtoon die wielboë en agter vloei die lyn oor breë agterligte.
Agterste deurhandvatsels is na die donker C-pilaar geskuif. Dit skep ook 'n moderne en koepee-agtige ontwerp.
Voor is 'n nuwe sierrooster met groot Suzuki-kenteken bo 'n sekondêre sierrooster tussen die twee misligte. Dit help om die Swift se neus te lig, sonder om lugvloei-dinamika te beïnvloed.
Agter is daar is 'n ekstra-hoë remlig met LED-ligte in die drukvlerk bo-op die bagasiebak-kap. Suzuki het ook LED-ligte in die remligte agter.
Van buite kan 'n mens die luukser GL-model van die GA-model onderskei danksy die wieldoppe en kleurgekodeerde kantspieëls met ingeboude flikkerligte. Die GL-modelle het ook misligte voor as standaard.
GERIEF
Met die inklimslag, is 'n mens verbaas oor die hoeveelheid ruimte binne. Hoewel die motor wyer is (40mm), is dit effens korter (20mm). Passasiers voor én agter het egter genoeg plek. Die klein parmant slaag ook die "hoed-toets" met groot gemak. Dit is nou 'n toets om te sien of Indiana Jones en sy beroemde hoed op die kop sou inpas. Die kopruimte is 'n aansienlike 23mm ekstra.
Die nuwe Swift se bagasieruim is ook groter en spog met 268 liter pakplek, sowat 58 liter meer is as tevore. Swift se GL-modelle se agterste bank kan in 'n 60/40-verdeling platvou en daar is 'n bagasieruim-skerm vir dié spesifikasievlak beskikbaar.
Die nuwe Suzuki Swift is op die bestuurder gefokus met sigbare en voelbare gehalte in die materiale. Die stuurwiel met D-raam en herontwerpte voorsitplekke bied meer steun op langer ritte.
INLIGTING
Suzuki het die middelkonsole effens na die bestuurder gedraai en die spoedmeter en toereteller is nou in aparte hulse. Op modelle met GL-spesifikasievlak, is ekstra chroom-detail en kleiner instrumente is verander om soos 'n sporthorlosie te lyk.
Alle Suzuki Swift-modelle is toegerus met lugversorging, voorste en agterste elektriese vensters, kragstuur en afstandbeheerde sentrale sluiting. Alle modelle het ook 'n stuurkolom wat op en af kan verstel, 'n ritrekenaar wat afstand, brandstofverbruik en reikafstand meet asook 'n alarm met immobiliseerder.
Kopers wat die GL-spesifikasievlak kies, kan boonop uitsien na 'n Suzuki-radio met Bluetooth-selfoonkoppeling, 'n ekstra USB-sok, beheer van die radio op die stuurwiel en elektries verstelbare kantspieëls.
Die HEARTECT-platform integreer met Suzuki se Effektiewe-beheertegnologie (TECT) vir die gebruik van hoëtreksterktestaal in die hele romp van die nuwe Swift. Dit help om die nuwe model se gewig laag te hou, sonder om veiligheid in te boet.
Die TECT-tegnologie werk saam met Suzuki se aktiewe en passiewe veiligheidstelsels, soos die twee lugsakke, ABS-remme met noodrem-hulp en elektroniese remkragverspreiding (EBD) en ISOFIX-ankers vir babasitplekke.
Die nuwe Swift weeg 'n indrukwekkende 95 kg minder as sy voorgangers. Dit maak die nuwe model een van die ligste motors in sy klas.
SUINIGE ENJIN
Suzuki se gewilde K12M-enjin is in die nuwe Swift gebruik. Die enjin is baie gewild danksy suinige brandstofverbruik, duursaamheid en betroubaarheid.
Die enjin het vier silinders met 'n relatief hoë drukverhouding in die suiers van 11:1. Die hoë druk help om die brandstofverbruik en uitlaatgasse laag hou. Die enjin lewer 61 kW teen 6 000 rpm en 113 Nm se wringkrag teen 4 200 rpm.
Die amptelike brandstofverbruik is 4,9 liter brandstof per 100 km gebruik in 'n normale gekombineerde brandstof-siklus. Dit beteken die Swift het 'n reikafstand van 750 km met sy brandstoftenk wat 37 liter hou.
Die Suzuki Swift is beskikbaar in drie modelle. Die GA-model is die bekostigbaarste en is steeds toegerus met 'n rits veiligheid- en gemakfunksies.
Die GL-model bied kleur-kantspieëls, misligte voor, 'n Suzuki-klankstelsel met beheer op die stuurwiel en 'n ekstra bagasiebakskerm. Hierdie spesifikasievlak bied kopers ook die keuse tussen 'n handrat- en AMT-outokas.
Die nuwe Swift is in ses kleure beskikbaar, naamlik Premium Arctic White, Metallic Silky Silver, Metallic Magma Grey, Premium Midnight Blue, Solid Fire Red en die gewilde Metallic Lucent Orange.
SLOTSOM
Die nuwe Swift se enjin is verbasend gewillig met maklike ratskakeling. Die stuurwiel se D-vorm gee 'n ekstra tikkie sportiwiteit aan die bestuurservaring. Die ruim binnekant is 'n feit en daar is volop plek voor en agter, selfs met 'n groot passasier. Alle instrumente en konnektiwiteit is binne maklike bereik en ook netjies op die oog. Die Swift sal die sak pas van eerste-keer eienaars, met verrassend baie pakplek agter.
Alle modelle word verkoop met Suzuki se vyf jaar of 200 000 km meganiese waarborg en twee jaar of 100 000 km diensplan.
Pryse is as volg: Suzuki Swift 1,2i GA handrat - R150 900; Suzuki Swift 1,2 GLi handrat - R175 900; Suzuki Swift 1,2i GL AMT - R189 900.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'