MOTORNUUS - Waar daar plase is, is daar trekkers en ander gemotoriseerde plaasimplemente. Dié voertuie moet noodwendig soms op openbare paaie beweeg, wat eiesoortige probleme vir boere sowel as motoriste kan inhou.
Volgens Arrive Alive is dit uiters belangrik om verdedigend eerder as aanvallend te bestuur. 'n Plaasimplement is baie groter en swaarder as 'n motor en hoewel die motoris die trekker of stroper kan sien, kan die bestuurder van die implement nie altyd 'n motor so maklik raaksien nie.
Hoewel boere sterk afgeraai word om na sononder met trekkers op openbare paaie te gaan, mag dit per geleentheid onvermydelik wees. Dit verhoog die risiko vir beide partye drasties, veral in skemer toestande.
Motoriste wat 'n trekker met 'n sleepwa vol werkers nader, moet ook op die gedrag van die passasiers bedag wees. Die groep bevat dikwels kinders wat maklik kan afval.
Trekkers is gebou vir krag op lae spoed en motoriste moenie ongeduldig met die stadigbewegende voertuig raak en daarom onnodige risiko's met verbysteek neem nie. Dis gevaarlik vir 'n trekker om op die skouer van die pad te ry, aangesien die stuurmeganisme baie gevoelig vir klippe en gate is. Moderne trekkers is heelwat kragtiger as hul ou eweknieë en boere moet hul werkers oplei om nie hierdeur verlei te word tot onverskillige bestuursgewoontes nie. Arrive Alive raai boere aan om waar moontlik motors wat noodligte flits voor en agter die trekker te laat ry.
Lang implemente soos ploeë wat agter 'n trekker gesleep word kan rondswaai. Benewens die destabilisering van die trekker kan so 'n implement teen 'n motor wat te naby verbygaan bots, met katastrofiese gevolge. Selfs wanneer die stadige voertuig op 'n veilige plek afgetrek het sodat motors kan verbygaan moet in ag geneem word dat sleepwaens en werktuie wat agter die trekker gesleep word, dikwels baie wyd is.
Motoriste moet ook vir handseine van trekkerbestuurders uitkyk. Op ouer modelle van implemente is flikkerligte nie altyd duidelik sigbaar nie.
Uiteindelik sal wedersydse hoflikheid en gesonde verstand die deurslaggewende faktore wees om die ongeluksyfer op Suid-Afrikaanse paaie te verlaag.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'