MOTOR-NUUS - Witsand bied 'n splinternuwe duinervaring met twee 4x4-roetes sowat 3 km vanaf Witsand.
Guy Moodie het in die tagtigerjare die eerste viertrekroetes op die plaas Westfield langs die kus naby Witsand ontwikkel. In 1992 het hy die plaas verder as vakansiebestemming ontwikkel en houthuise opgerig.
Sy seun Benjé het die plaas sowat vier jaar gelede begin bestuur en hoewel die houthuise nou voltyds verhuur word, is hy besig om die viertrekroetes uit te brei en die geriewe te ontwikkel.
"Die roetes bied 'n lekker wegbreekbelewenis in die platteland," sê Benjé. "Daar is twee roetes van onderskeidelik 8 km en
22 km oor die sandduine in die kusduinbos. Die roetes is geskik vir enige 4x4-voertuig, maar dit moet 'n redelike grondvryhoogte hê," vertel hy.
Al verg die roetes viertrekvaardigheid, is dit nie slegs vir gesoute bestuurders nie. "In die somer kan die duine met sagte, diep sand 'n uitdaging bied, maar in die winter wanneer daar bietjie reën geval het, is dit makliker."
'n Viertrekvoertuig met 'n redelike grondvryhoogte is geskik vir die roete.
Volg die roetewysers, want as jy afdwaal en vasval en jou voertuig moet met die trekker uitgesleep word, gaan dit jou kos.
Die moeilikheidsgraad is 3 tot 4 en laestrek-ratte word deurgaans gebruik. "Van die roetes is makliker, maar daar is ook heelwat moeiliker dele. Ek laat nie voertuie sonder 'n roetegids op die moeiliker roete toe nie, veral nie as dit 'n groot groep is nie," sê hy.
Daar is twee mans wat as roetegidse optree, een ry voor en die ander een volg. Jy hoef nie 'n roetegids saam te neem nie, maar dan moet jy met 'n kaart regkom. En as jy vasval oor jy vir jou wil slim hou, gaan dit jou R1 000 kos as Benjé jou met die trekker moet kom uitsleep.
Langs die makliker roete is 'n lapa waar jy kan uitspan en 'n vleisie braai, want jy mag nie sommer enige plek vuur maak nie. Daar is drinkwater beskikbaar, maar die toilette is nog bietjie primitief en word gespoel met water wat in groot houers voorsien word. "Ons is besig om die geriewe op te knap," sê hy.
Dit neem sowat vier tot ses uur om die roete te voltooi.
Die roetes loop deur die kusduinbos.
Die roetes se moeilikheidsgraad is 3 tot 4. Foto's: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'