Nico het verlede Saterdag vir heelwat opwinding gesorg deurdat sy Volkswagen Scirocco by Simola se heuwel van die pad af is en volgens ooggetuies vier keer gerol het.
Nico is egter 'n gesoute renjaer en beplan om volgende jaar weer deel te neem in dieselfde Volkswagen.
"Die skade is nie te erg nie, ek sal die motor regmaak. Ek weet my filosofie van 'n sterk motorstruktuur, baie goeie sitplek en om myself deeglik vas te gordel, het gekeer dat ek seergekry het," het Nico aan die Suid-Kaapse Motorgids gesê kort na die ongeluk.
Om alles te kroon het De Nagy Koves Hrabar in sy Subaru GT kort hierna ook van die pad gery en bo-op Nico se motor beland. Nico se Volkswagen is langs die pad gelaat nadat besluit is daar was geen gevaar vir toeskouers of ander deelnemers as dit vir eers daar gelaat sou word nie."
Daar word vermoed dat indien die Volkswagen nie daar was nie, sou die Subaru teen die volgende steilte verder afgerol het - dalk met ernstige gevolge, het van die toeskouers Saterdagoggend gesê.
Nico vertel dat hy heeltemal in beheer van die motor was, maar dat die agterkant net effens gegly het voor die ongeluk.
"Ek het my hand seergemaak, maar gelukkig niks gebreek nie. Die skade aan die motor lyk ook erger as wat dit is - dit is meestal glas en ander ligte skade wat reggemaak kan word. Verwag my volgende jaar terug," het Nico gesê.
• Nico en Sandra van Rensburg se seun Julian was eerste in sy klas in sy 1971 Lola T200 met 'n beste tyd teen die heuwel van 50.3 sekondes.
Julian van Rensburg maak gereed vir sy eerste poging teen die heuwel op in sy 1971 Lola T200. Pa Nico hou `n wakende ogie.
ARTIKEL: ANICA KRUGER