MOTORNUUS - Ek is lief vir tegnologie en die voordele wat dit inhou om 'n mens se lewe te vergemaklik, maar daar kom 'n punt wat dit jou eenvoudig ook in die hakskeen kan byt. In ons moderne era is tegnologie besig om ons heeltemal te beheer. Ons kan nie meer 'n paar minute gaan sonder ons selfoon nie. Elke drie minute loer die deursnee mens na hul selfoon om te sien of hulle nie dalk iets gemis het nie.
Hierdie tegnologiese tameletjie laat my dink aan 'n onlangse geval waar die Tesla-toepassing vir 'n wyle af was om onderhoud te ondergaan. Dit het groot konsternasie in die wêreld veroorsaak. Die probleem is dat jy jou selfoon en die spesifieke Tesla-toepassing gebruik om die kar mee oop te sluit en aan te skakel.
Elektronies beheerde motors is ons voorland, maar gaan ons dan ons alies sien? Grafika: cthreegroup.com
Die uiteinde van die herstelwerk aan die toepassing het veroorsaak dat baie mense gestrand was en nie in hul motors kon kom nie. Ek ys om te dink wat kan gebeur as 'n kuberkraker die toepassing binnedring. Sal hy of sy jou versnellings- rem- of stuurmeganisme kan beheer? As alles op die ou end elektronies is, hoekom nie?
Op 'n minder gevaarlike, maar uiters ongemaklike noot het ek gehoor van 'n geval waar iemand al sy inkopies en toepassings op sy selfoon doen, soos baie van ons deesdae. Die persoon ry ook 'n Tesla. Sy selfoon se battery het toe pap geraak en hy kon ook nie in sy kar kom nie. Hy moes toe 'n laaier koop.
Die probleem was dat hy nie 'n laaier kon koop nie omdat sy foon se battery pap was en hy nie sy betaaltoepassing kon gebruik om dit te koop nie. Die arme man moes toe die winkelbestuurder vra of hy die laaier in die winkel kon oopmaak en laai totdat hy sy foon kon aanskakel. Dit alles net om vir die laaier te betaal sodat hy weer sy kar kon oopmaak en aanskakel.
Tegnologie is wonderlik, maar deesdae word soveel tegnologie in motors ingebou dat die voertuig sal weier om te ry as daar net iets kleins fout is, of jou sal irriteer met ligte en alarms totdat jy dit teen 'n astronomiese prys regmaak of vervang.
Ek mis die dae toe 'n mens nog 'n eenvoudige, betroubare motor kon ry; een wat jy met 'n draad en tang kon regmaak.
Die idee is tog veilige motors en nie rekenaars op wiele nie.
''Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'