MOTOR NUUS - Dis seker die menslike aard om slegte nuus te ignoreer in die hoop dat dit net 'n nare droom is, maar November se voertuigverkope – gemeet teen November 2017 – dui op 'n agteruitgang.
Volgens die Nasionale Motorvervaardigersvereniging (Naamsa), het nuwe voertuie met 'n totaal van 47 486 eenhede (4,6%) gedaal, terwyl passasiersmotors (31 054) 'n afname van 1 764 eenhede (5,4%) getoon het. Dat die individuele kopers sukkel, word weerspieël in die berekening dat die verhuringsmark vir nagenoeg 23,9% van die verkope verantwoordelik was.
Ligte handelsvoertuie en bakkieverkope (13 695) het met 891 eenhede (6,1%) afgeneem – ook 'n slagoffer van dalende verbruikersvertroue en toenemende druk op die verbruiker se besteebare inkomste.
Onder die toptien was Toyota steeds op die boonste trappie van die podium, maar sy totaal van 10 904 was 'n dramatiese 2 438 eenhede minder as in Oktober. Toyota se algehele topverkoper was weer Hilux (3 235) met goeie ondersteuning deur Corolla met 1 426 verkope, Quantum (1 694) en Fortuner met 886 verkope. Die gebruiklike naaswenner – Volkswagen – het 8 503 verkope aangeteken danksy sy twee staatmakers, Polo (3 092) en Polo Vivo (2 427) wat nuwe tuistes gevind het. Ander presteerders in die VW-stal was Golf 7 met 297 verkope, en die Audi-afdeling se indrukwekkende 798.
Ford (5 279) beklee soos gewoonlik die derde plek – aangehelp deur Ranger (2 506), Figo (1 195) en Fiesta (980). Die vierde plek onder die toptien behoort steeds aan Nissan (5 054) wat 'n geringe verbetering is op die maatskappy se Oktober-syfers van 4 902. Nissan se sterre is NP200 op 1 698 eenhede, Almera (520), X-Trail (200) en NP300 (761).
Daar is 'n groot gaping tussen die eerste vier en Hyundai (2 508) in die vyfde plek weens 'n afname van meer as 500 eenhede. Hyundai se Grand i10 het 786 verkope aangeteken – en dit nadat hierdie model die afgelope aantal maande gereeld die duisend eenhede-kerf behaal het.
Renault (2 159) het een plek opgeskuif tot sesde algeheel, danksy mooi prestasies deur Kwid (847), Sandero II (554) en Clio IV (310). Intussen sal Isuzu op 1 805 verkope en sewende algeheel besorg wees oor die meer as 600 eenhede wat hy verloor het – gemeet teen Oktober se 2 462.
Die KB-bakkiereeks heet nou MU-X. Die KB het net 815 kopers genoegsaam beïndruk, terwyl die nuwe naam – D-MAX - darem 603 kopers se aandag getrek het. Ooglopend sal Isuzu hard daaraan werk om sy sesde plek terug te kry.
Mercedes-Benz (1 630) skuif een plek op na agtste ondanks 300 minder verkope teenoor Oktober. Kia (1 505) is wankelrig in die negende plek en is net een van twee vervaardigers onder die toptien wie se verkope verbeter het teenoor Oktober. Sy topverkoper Picanto (567) is egter 'n duisend-per-maand model en behoort veel beter te doen. Ander presteerders in die Kia-stal was Rio (297) en die indrukwekkende Sportage wat 427 nuwe tuistes gevind het.
Soos die vorige maand bly BMW (1 305) in die laaste plek en individuele modelverkope word nie bekend gemaak nie.
Vanselfsprekend val talle vervaardigers en invoerders buite die toptien, maar speel nogtans 'n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Hier is dit veral Jaguar/Land Rover (356) en Volvo (281) wat goed gevaar het, asook Porsche (115) wat gereeld meer as 100 voertuie per maand van die hand sit.
Toyota se luukse handelsnaam – Lexus – het egter 'n beskeie 69 eenhede verkoop en lyk nie in staat om Jaguar se 98 te troef nie.
In die über-luukse segment behoort November aan Ferrari met 11 verkope, gevolg deur Maserati (5) en Bentley (4). Audi se skitterende R8 het egter net een koper se hart gesteel.
Waarskynlik was November se verkope – skraal soos dit was – 'n beklemmende voorteken van 'n verswakkende mark waar die vraag na gebruikte motors reeds 69% van alle verkope beloop met die spook van stygende rentekoerse wat om die draai lê en loer.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'