MOSSELBAAI NUUS - Motorentoesiaste kan môre, 16 Desember hulle tande slyp vir 'n besonderse gesig tydens die tweede Mossel Bay Wheels Gathering (MBWG) wat in Heiderand gehou word.
Volgens Dirk van der Merwe, die organiseerder, het talle navrae dié week ingestroom soos belangstellendes nog stalletjiestaanplek wou bespreek en ook motors wou kom ten toon stel.
"Ons stalletjies is nou vol bespreek, maar daar is altyd nog plek vir motors om te skou," meen Van der Merwe.
Deelnemers aan vanjaar se skou kom vanaf plekke soos Knysna, Paarl, Robertson, Montagu, Kaapstad, Plettenbergbaai en selfs Johannesburg. Laasgenoemde inskrywing is van 'n ene Tony Horner wat spesiaal sy 1962 Mini Morris Minor van 850cc totaal herbou het vir die MBWG.
"Tony het Maandg in die pad geval en het so teen 16:30 in Bloemfontein aangekom. Die motortjie se enjin is maar nog nuut en styf en Tony moes bykans elke 50km stop weens oorverhitting.
"Hy vorder egter desnieteenstaande goed," het Van der Merwe by navraag vertel. Horner sal 'n paar dae reis na Mosselbaai.
Die oudste motor by die skou sal 'n 1915 Model T Ford wees. Daar is egter heelwat modelle uit die 1930's en 1940's ook volgens Van der Merwe.
"Ons het ook een motor wat uit Kaapstad kom kuier wat die afgelope 40 jaar al aan dieselfde eienaar behoort."
Van der Merwe sê dat die voertuie en stalletjies vanaf 06:30 begin opstel, maar dat die skou eers 09:00 amptelik geopen word.
Om 15:00 word die gelukstrekkings gedoen en ander pryse uitgegee.
Die skou eindig om 17:00.
Besoek gerus die MBWG op die hoek van Melkhout- en Sederstraat, Heiderand oorkant die Mosselbaai Mall.
Ravenol Oil SA tree op as borg vir die geleentheid.
Vir meer inligting kontak Dirk van der Merwe (084 774 7300 of dirk.dirxworx@telkomsa.net).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'