Steeds beter as die Suzuki’s – jammer ouens ek trek my woorde terug. Dis net dat ‘n mens sekere motorfietse met sekere aksies assosieer. Kawas vir dougnuts en Suzuki’s se ore word gedraai tot die enjin uitklim. Dis nou maar so!
Ontstaan
Maar terug by Kawasaki wat selfs voor Honda gestig is en gou ingehaal het wat motorfietsverkope betref. Kawasaki Heavy Industries, Ltd. is in 1896 deur Shozo Kawasaki gestig, maar het eers in 1949 motorfietsenjins begin produseer as 'n neweproduk van hul produkte vir die vliegtuigbedryf. Hulle was nie baie suksesvol nie, sukses het eers in 1960 na hulle kant toe gekom toe Kawasaki Japan se oudste motorfietsvervaardigingsmaatskappy, Meguro Motorcycles, gekoop het.
Meguro het redelike sukses in Japan behaal, maar ná 'n paar slegte besluite het hul gewildheid erg afgeneem. Met Kawasaki wat die motorfietsmark wou betree en van die vliegtuigbedryf wou wegbeweeg, was die aankoop van 'n gevestigde maatskappy 'n aantreklike opsie.
Heel eerste motorfiets
In dieselfde jaar is Kawasaki se heel eerste motorfiets onthul - 'n 125 cc-tweeslag. Die publiek is eers ses jaar later aan die eerste van hul kenmerkende 'groot fietse' in die vorm van die 650 cc-W1 bekend gestel. Die W1 was nie alleen groot nie, maar ook swaar (anders as die ander vervaardigers se groter motorfietse); dus het dit nie baie goed verkoop nie.
Kawasaki het kort ná die teleurstelling van die W1 teruggekeer met die heelwat ligter 250 cc-A1 Samurai en die 350 cc-A7 Avenger. Albei het relatiewe sukses op die mark behaal. Dit was die begin vir die kragtige motorfietsmaatskappy wat ons vandag ken. In 1969 het hul hoë-verrigting H-modelreeks op die mark gekom, gevolg deur die wêreldberoemde 900 cc-Z1 in 1973 ('n motorfiets wat Kawasaki sterk in die mark gevestig het).
Kawasaki 1100
In 1980 het verkope vir die Z1100, die eerste model in die supersport GP-reeks begin. Die Kawa 1100 is baie gewild, veral onder motorfietsentoesiaste. Hierdie modelle word dan gewoonlik verander volgens eie keuse of eerder ge-‘customise’.
Die ander model wat beslis genoem moet word, is die Kawasaki Ninja. Na die verkope van die eerste Ninja Z900 in 1984 is dit deur tydskrifte as ‘Bike of the Year’ benoem. Die meeste Ninja's wat ek kan onthou was almal groen. En die manne en maninne wat hulle gery het, was spoedvrate!
Verskeie ander modelle het verder hul verskyning gemaak, maar die vlagskip was natuurlik die 2000 Ninja ZX-12R. Al die modelle kan ongelukkige nie hier bespreek word nie en die geskiedenis tussenin is maar dun so ons spring nou bietjie na die nuutste model.
Die Kawasaki 2013 Versys 1000 Grand Tourer. Nou wonder ek net of hy meer aanhang kry as die Yamaha FJR 1300. Miskien kan iemand ons laat weet!

1962 Kawasaki 125B8

1981KawazakiZ1100
ARTIKEL: EMSIE MARTIN
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'