Dié ywerige jong man staan egter vir niemand terug nie. Hy was net nege toe hy Julian se renmotor op oefendae in die kuipe begin rondry het. Natuurlik met Julian langs hom en pa Nico wat 'n wakende ogie hou.
"Die VW Golf waarmee hy begin ry het, was aanmekaargesit van allerhande ekstra onderdele wat sy pa nog gehad het, met 'n standaard 1600-enjin. Die plan was dat hy in dié ryding leer ry en dan sou ons later vir hom 'n beter karretjie bou," vertel ma Sandra trots.
Sommer baie gou was dit duidelik dat Juan baie ernstig is en nie sy motorrenne ligtelik opneem nie.
"Hy was vasberade en het vir homself doelwitte gestel wat ons verbaas het."
Hy was ook ernstig wat sy motor betref en het talle voorwaardes gehad van hoe dinge op sy ryding gedoen moet word en hoe sy nommerplakkers moes vertoon. "Hy was 'n perfeksionis en sy pa moes bontstaan. Juan het geen kortpaaie geduld nie en alles moes net reg wees," vertel Sandra.
Juan was maar net 12 jaar oud en in graad 7 toe hy in Mei verlede jaar aan sy eerste wedren in die ontwikkelingsklas deelgeneem het. Al die deelnemers was ouer as hy en van die deelnemers tot drie keer sy ouderdom.
Dit was egter 'n baie leersame ondervinding en van daar af het Juan met elke wedren verbeter. Gou-gou het hy derde en tweede plekke losgeslaan en in die begin van November by die eerste been van die Southern Womza Shootout het hy vir die eerste keer 'n algehele eerste plek behaal. Begin Desember het hy in die tweede been van die Shootout in Worcester 'n vyfde plek teen baie ervare jaers behaal. Dit was ook sy eerste "weg" wedren.
Met die goeie punte wat hy in die eerste been in George behaal het, het hy daardie aand weggestap as die algehele wenner van die Southern Womza Shootout in sy kategorie. Dit was 'n groot prestasie aangesien dit maar sy vyfde wedren was.
Sedert die wedrenseisoen in 2012 begin het, het hy fenominale suksesse behaal:
- George Ou Motorskou-wedrenne - 1e algeheel;
- Port Elizabeth Kurt Alchin Memorial Race - 3e algeheel, maar hy het almal aangenaam verras met 'n 1e plek in die derde wedren van die aand;
- & George Champion of Champions - 1e algeheel;
- Oudtshoorn Womza Qualifier - 1e algeheel;
- George Sprint 4 Money - 1e algeheel.
Juan is sterk op pad om punte in te samel om sy SWD-kleure te verwerf. Hy berei nou voor vir die gewilde Klein-Karoo-kampioenskap in Oudtshoorn op 7 Julie.
Langs die baan is sy ma en pa natuurlik altyd sy grootste ondersteuners!

Juan wen in George.