Gallery
MOTORING NEWS - Twee amateur SA tydrenkampioenskappe (1979 en 1980), twee SA tydrenkampioenskappe (1986 en 1991), twee SA tydrenproduksiemotor-kampioenskappe (1998 en 1999) en vier SA veldrenkampioenskappe (1986, 2003, 2004 en 2006). In 1986 doen hy dit dubbeld: SA tydrenkampioen en SA veldrenkampioen.
Dit is Hannes Grobler se ongelooflike rensukses in Suid-Afrika ... 'n motorsportlegende.
Ek het onlangs die voorreg gehad om saam met Grobler en sy eerste navigator in 1977, At Kriel, nou in sy 80's, 'n koffie te drink.
Grobler vertel hy wou oorspronklik vir Suid-Afrika rugby speel. Dit was sy droom om voor 80 000 mense op 'n rugbyveld uit te draf, maar na 'n ernstige kniebesering het hy sy aandag op karre gevestig.
FOTOGALERY: Hannes Grobler: Legende van motorsport
In 1977 sluit hy by die Welkom-motorklub aan en besluit om met sy eie Datsun 160U SSS met Kriel as navigator, aan plaaslike tydrenne deel te neem. Kriel was ook die man wat Grobler oorreed het om aan motorsport deel te neem.
Hannes Grobler (regs) en At Kriel, Grobler se eerste navigator, tydens 'n blye weersiens in George. Foto: Francois Germishuys
'Muddyslip' na groot dinge
Hulle eerste ren was die Castrol British Airways-toer en hulle eindig 16de. Die volgende jaar, in 1978, neem hulle deel aan die nasionale tydrenreeks. Hulle eerste tydren was die Molyslip, of aldus Grobler, die Muddyslip. Hier haal hulle 'n uitstekende 11de plek uit 60 deelnemers, en dit in 'n standaard Datsun!Hierna kry Grobler bakwerk van Datsun en R2 000 vir die jaar en wen gou die SA amateur-tydrenkampioenskap. In 1979 kry hy 'n Datsun 160 U SSS koepee bakwerk, en wen hy weer die Klas C-tydrenkampioenskap.
In 1980 ry hy 'n Datsun 140Y tydrenmotor met 'n FIA-silinderkop en wen Klas B.
Datsun maak in 1981 vir Grobler 'n volle fabrieksjaer, met Eric Saunders as spanmaat. Hulle albei kry splinternuwe Datsun Stanza's.
In 2003 en 2004 neem Grobler (middel) deel aan die Dakar as bestuurder van die ondersteuningsvoertuig vir die Nissan-fabrieksspan se bakkies.
'A star is born'
In 1982 jaag hy tweede plek los in beide die Molyslip-tydren en Internasionale Castrol-tydren. Na die Molyslip skryf Sarel van der Merwe agter op Grobler se ruit: "A new Star is Born". In 1983 was sy beste plek weer 'n 2de in die Molyslip. Dit was ook die jaar waarin Piet Swanepoel langs hom inskuif vir 'n jare lange vennootskap. In 1984 bereik hy 'n hoogtepunt met sy puik oorwinning in die Stannic-bergtydren. Hy volg dit op met 2de plekke in die Internasionale Castrol en Nissan Internasionale-tydrenne. Dis ook die jaar wat hy oorskakel na 'n agterwielaangedrewe Nissan Langley. Dit was basies 'n Stanza onderstel met Langley bakwerk.
In 1985 het hy gemengde welslae met een 2de plek in die Internasionale Nissan-tydren. Die Langley was nie meer die antwoord nie, en die bekende Nissan Skyline is ontwikkel. (Lees meer daaroor aanlyn.)
In 1986 wen Grobler die SA tydrenkampioenskap met sy Klas B Skyline. Nissan het hom ook toestemming gegee om 'n veldrenbakkie, die Nissan Safari, te ontwikkel. Hy wen die Total Tara-tydren en met sy eerste probeerslag ook die SA veldrenkampioenskap - die eerste van vier oorwinnings.
In 1986 verwerf hy Springbokkleure en in 1987 wen hy die Roof of Africa-tydren - meer as vier ure vinniger as die man in 2de plek. Hy vertel hy het gaan stort, 'n vuur aangesteek, gebraai en klaar geëet toe die naaswenner aangery kom. In 1988 bou Grobler en sy span 'n monster van 'n Skyline met 'n IMSA V6-enjin wat 650 perdekrag kon uitskop om die Audi-aanslag van Sarel van der Merwe aan te vat. Op die kruin van Grobler se aanslag is die Groep B-motors egter verban. Hulle harde werk was nie verniet nie en die Skyline is omgeskakel in 'n teerbaan-renmotor. Ongelukkig is die Skyline in net sy tweede byeenkoms op Killarney in 'n ongeluk afgeskryf.
Wen, wen, wen
In 1989 skakel Nissan oor na die Sentra Coupe met vierwielaandrywing en in 1990 wen Grobler twee tydrenne en eindig 4de in die SA kampioenskappe. In 1991 wen hy en Swanepoel weer die nasionale tydrenkampioenskap.
Na dit het hy 'n paar jaar aan baanwedrenne deelgeneem met verskeie Nissan-motors, maar sedert 2002 jaag hy in die Klas T-veldrenbakkies en wen dieselfde jaar die Total Tara-tydren met sy vinnige T1 Nissan Hardbody. Hy wen die SA veldrenkampioenskap in 2003, 2004 en 2005.
In 2003 word Grobler deur Nissan genooi om aan die Dakar-tydren deel te neem, as bestuurder van 'n Renault-trok - die ondersteuningsvoertuig vir die Nissan-bakkies wat deelneem. Die volgende jaar doen hy dit weer.
In 2009 het hy in Botswana die Desert Race gewen met 'n blitsige BMW X3.
Grobler het in 2013 uitgetree, en geniet nou sy Amarok en rondry, maar erken, "Ek jeuk so af en toe."
Mens kan met reg Grobler se geliefkoosde uitdrukking ook ten opsigte van hom en sy loopbaan gebruik en met groot bewondering sê: "Mooi man!"
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'